Ná ’n suksesvolle 2024 hoop Anchor of Hope om in 2025 op hierdie sukses voort te bou.
“Anchor of Hope se sukses is absoluut gekoppel aan die goedheid van mense en maatskappye se harte,” het Anchor of Hope se Boeta Swart aan Bloemfontein Courant vertel. “So die enigste manier hoe ons op ons sukses kan bou, is met dit wat ons tans doen en om, tot die beste van ons vermoë, dit wat mense vir ons gee en toevertrou nie te mors of wanbestee nie.”
Anchor of Hope hoop om te groei deur ’n huis vir kinders in nood in te rig. “Dit is nog in die beginstadium,” sê Swart.
Die organisasie hoop ook om hul skuiling vir ma’s en kinders van die grond af te kry – iets wat in April of Mei voltooi sal wees. “Ons wil ook terugsaai in die gemeenskap,” voeg Swart by.
Om hierdie teikens te bereik beplan Anchor of Hope om dit wat aan hulle toevertrou word, só te gebruik dat dit nie net die organisasie trots maak nie, maar ook die hele Bloemfontein.
“Ons sukses sal verder bepaal word deur mense wat ons klaar ondersteun, en deur dit wat hulle vir ons gee behoorlik te benut en die gemeenskap trots te maak,” vertel Swart.
Bloemfonteiners kan betrokke raak by Anchor of Hope deur by hul vullisverwyderingsprojek aan te sluit. Besighede en meenthuiskomplekse kan op kontrakbasis by hierdie inisiatief betrokke raak.
Volgens Swart beplan Anchor of Hope ook om ’n tuindiens op die been te bring, en om in die nabye toekoms ook ’n sonpaneel-skoonmaakdiens te implementeer.
Warren Hawkins