ANC distansieer hom van Bfn-rooftog

0
1064
Photo: Jeretha Oosthuizen
Die ANC in die Vrystaat het hom gedistansieer van bewerings dat een van sy leiers moontlik gekoppel is aan ‘n transito-rooftog wat Woensdag in Bloemfontein plaasgevind het.

Daar word berig dat ‘n voertuig wat aan die provinsiale party se ondervoorsitter, William Bulwane, behoort na bewering in die misdaad gebruik is.

Die provinsiale woordvoerder, Thabo Meeko, sê egter dat Bulwane sy voertuig in Mei ná ‘n ongeluk vir herstelwerk geneem het.

Polisiewoordvoerder, Thandi Mbambo, het vroeër gesê dat ‘n 38-jarige man in hegtenis geneem is nadat hy met Bulwane se wit BMW X5 gery het.

Drie vuurwapens, ammunisie, en ‘n sak wat verskeie toerusting bevat wat vermoedelik gebruik word tydens die rooftogte, is ook gevind.

Meeko sê daar is geen verbintenis tussen hierdie voorval en Bulwane nie.

Mark Steenbok / OFM-nuus