Amper maar nie stamper vir Blitsbokke

0
1212

“Dit was so hittete of ons Blitsbokke het hier in die Kaapstadse Stadion in die sewestoernooi vir ons ‘n groot Kersgesenk gegee deur die Nieu-Seelanders weer in die eindstryd van die Kaapse toernooi te klop. Ongelukkig kon hulle nie die sege van die Doebai-sewestoernooi herhaal nie en het die All Blacks die titel naelskraaps 7-5 voor hul neus weggepluk!” begin Bontie Bonthuys, wat die gasheer van Oom Sjert en Stywelip Carrington in Kaapstad was, ons indaba.

“Dit was ‘n naelbytstryd! Met net 58 sekondes speeltyd oor het die Blitsbokke se konsentrasie ongelukkig verslap. Siviwe Soyizwapi en sy manne was op die aanval in die Nieu-Seelanders se gebied, maar toe verloor hulle hul eie lynstaan en is dit neusie verby. Dit was hartverskeurend. Die enigste troos is dat die Nieu-Seelanders en die Blitsbokke nou aan die bopunt van die Internasionale Rugbyraad se sewespuntelys met 41 punte elk is,” gesels Oom Sjert saam.

“Die sewesrugby was opwindend ondanks die feit dat ons Suid-Afrikaanse vrouespan, die Imbokodo, my erg teleurgestel het. Saru kan gerus ‘n sewesrugby-ontwikkelingsplan vir ons Suid-Afrikaanse vroue by universiteite, kolleges en skole van stapel stuur. Ons is ver agter die ander lande as dit by vroue-sewes kom,” spreek Stywelip sy kommer uit.
“Stywelip, het jy darem op hoogte van die jongste krieketverwikkelinge in Suid-Afrika gebly? Met Jacques Faul en Dave Richardson aan die stuur van krieketsake is die voormalige Protea-kaptein, Graeme Smith, vir minstens die volgende drie maande SA se direkteur van krieket. Smith het die voormalige Protea-paaltjiewagter, Mark Boucher, as die nuwe Protea-breier aangestel en hy sal deur Enoch Nkwe bygestaan word. Linda Zondi is weer die sameroeper van die keurkomitee en hulle het die Protea-oefengroep met ses nuwelinge vir die eerste twee toetse teen die Engelse aangekondig.

Daar gebeur weer positiewe dinge by KSA,” laat Sporie Bezuidenhout van Despatch af van hom hoor.

“Met nuwelinge soos Pieter Malan, Dane Paterson, Rassie van der Dussen, Beuran Hendricks, Dwaine Pretorius en Rudi Seconds kan Faf du Plessis en sy span dalk net moontlik die Engelse aanstaande week in die eerste toets op Supersportpark in Centurion verras. Die Protea-oefengroep sal vandeesweek begin voorbrei,” laat Bontie weer van hom hoor.

“Wat sê julle van Tiger Woods se Amerikaanse gholfspan wat die Presidentsbeker op die laaste dag met die enkelspel-wedstryde 16-14 voor die neuse van Ernie Els se Internasionale span op die Royal Melbourne-baan weggeraap het?” wil Bester weet. Die ander manne reageer nie; hulle wens mekaar liewer ‘n geseënde Kersfees en voorspoedige 2020 toe.

“Geseënde Kersfees ook vir al ons lesers!” klink uit al vier die windrigtings op.
Groetnis

Georg van Eck