Amerika slaan kamp op in Bloemfontein

0
803
Die Amerikaanse slot, Civetta FOTO: MORGAN PIEK

Die VSA se Nasionale A-span is in Bloemfontein vir die volgende twee weke, waar hulle onder meer koppe sal stamp met die Toyota Cheetahs en die Poemas in die Toyota-uitdaagreeks.

Die span van Amerika is nie die volsterkte nasionale span nie, maar daar is egter toetsspelers wat in aksie wees. Dié groep is volgens die afrighter, Gary Gold, die volgende moontlike nasionale spelers en hulle is in Bloemfontein vir ‘n rede.

Die VSA sal poog om in November in Doebai te kwalifiseer vir die 2023 Rugby-wêreldbeker in Frankryk. Siende die kwalifisering in die Midde-Ooste sal plaasvind, is die plaaslike klimaat en hoogte bo seespieël ideaal vir die span om hulself te slyp. Gold, ’n voormalige Springbok-hulpafrigter, sê hulle weet dat die Rosestad ’n goeie plek is om te oefen en te speel.

Gold het verder aan Bloemfontein Courant gesê dat dit vir hulle sin maak om in Bloemfontein te wees en hulle is net dankbaar vir die geleentheid. “Dit is só ‘n goeie omgewing om in te oefen om soveel redes – die mense hier is ongelooflik en sien altyd om na jou,” het Gold gesê.

“Toe ons by die Springbokke was, het ons gereeld gesê jy kan regtig baie werk hier gedoen kry. Alles werk en is naby, terwyl daar ook wonderlike geriewe is vir ons om by te oefen.

“Vir ons is hierdie iets wat baie van die ouens se oë oopmaak. Sommige van hierdie spelers het nog skaars hul deelstaat verlaat, wat nog te sê om die Verenigde State te verlaat, wat nog te sê om na Afrika te kom. Hierdie is net ‘n ongelooflike geleentheid vir hierdie ouens en baie van hulle het nog nooit tevore op hierdie vlak gespeel nie. Sommige het pas by klubrugby ingeskakel, en eintlik het ons ‘n ou hier wat eers ‘n jaar gelede begin rugby speel het. Hy was vroeër ‘n stoeier.

“Ons het baie eksperimentele spelers hier en hulle is die toekoms. Soos jy weet, is 2031 ‘n mylpaal in Amerika en ons bou daaraan.”

In 2031 sal die Rugby-wêreldbeker vir die eerste keer in Amerika aangebied word, en die verwagtig is dat dieselfde met die sport sal gebeur as met sokker nadat die 1994 Sokker-wêreldbeker in Amerika aangebied was.

Daar is twee Suid-Afrikaners in die VSA-span – Duncan van Schalkwyk (skrumskakel/ losskakel) en Michael de Waal (flank). Die vleuel, Marcel Brache, is wel in die VSA gebore, maar het in Kaapstad grootgeword en het SuperRugby vir die Stormers gespeel. Hy was ook ‘n speler vir die Western Force in Perth, Australië.

Van die VSA-hulpafrigters sluit die oud-Sharks afrigter en All Blacks hulpafrigter, John Plumtree, en die voormalige Argentynse toetshaker en hoofafrigter, Mario Ledesma, in.

Die VSA pak Vrydagaand om 18:00 die Cheetahs in die Toyota-stadion, en aanstaande Vrydag om 17:00 kom hulle teen die Poemas te staan. – MORGAN PIEK