Amelia – ‘n tuiste weg van die huis vir baie

0
514
Eugene Gericke en Caroline Nortjie (middel) van Alpha Pharm saam met die kinders van Amelia Home. Foto verskaf.

Die Amelia Home, wat in Batho-lokasie in Bloemfontein geleë is, is ‘n veilige hawe vir 20 kinders na wie daagliks omgesien word. Die toesighouer, Aletta Sebusi, het aan Bloemfontein Courant gesê dat die dagsorg van 07:00 soggens tot 16:30 in die middae elke dag 20 kinders met verskillende gestremdhede versorg. Sy sê die dagsorg bestaan al sedert 2002 en daar kom elke jaar nog kindertjies by.

Sebusi het vertel dat die vier versorgers by die dagsorg die kinders teen 07:00 soggens gaan haal en weer huis toe neem in die namiddae.  “Gedurende die dag doen ons aktiwiteite met die kinders wat hulle stimuleer.”

Sy het verduidelik dat hulle na kinders vanaf die ouderdom van een maand tot ouderdom 18 jaar omsien. Daarna moet die kinders na ‘n ander dagsorg gaan. Sy sê hulle werk met kinders van Batho en areas in die omgewing, maar soms ook met kinders wat verder bly. Sy het verduidelik dat die dagsorg elke maand geld van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling in die Vrystaat ontvang vir goedjies wat hulle nodig het om na die kinders te kyk.

“Ons het ‘n probleem met vervoer en kan nie noodwendig na al die kinders toe gaan nie, al wil ons so graag. Gelukkig help twee ouers ons, maar as daar nog iemand is wat ook kan help, sal dit regtig waardeer word.”

Sebusi het ook gesê dat is enige iemand welkom is  wat wil kom uithelp by die dagsorg. Sy kan gekontak word by 073-099-8371. – Sazly Hartzenberg sazly@centralmediagroup.co.za