Alumni is ’n bron van trots vir die Universiteit van die Vrystaat en hulle werk word op alle terreine van die samelewing erken en gevier. Die UV se Alumni-kantoor nooi nominasies uit vir die prestasies van uitnemende alumni wat sowel in hulle persoonlike hoedanigheid as op professionele gebied bereik is. Die Kovsie Alumni-toekennings word in die volgende kategorieë gemaak:
- Die Kanselierstoekenning vir Uitnemende Alumnus van die Jaar is die hoogste eer wat aan ’n alumnus toegeken kan word. Hierdie toekenning gee erkenning aan die uitnemende prestasies van die ontvanger (sowel professioneel as persoonlik) op nasionale of internasionale vlak.
- Die Jong Alumnus van die Jaar-toekenning is daarop gemik om die prestasies van alumni wat in die afgelope dekade gegradueer het, te erken en te vier.
- Die Cum Laude-toekenning word aan ’n alumnus gemaak om uitnemendheid op enige gebied te erken.
- Die Hoofbestuurstoekenning word gemaak aan enige persoon (nie noodwendig ’n alumnus nie) wat uitsonderlike diens aan die universiteit gelewer het.
The Kovsie Ambassadeurstoekenning word gemaak aan ’n individu wie se prestasies vir hom/haar onderskeiding gebring het, tot voordeel van sy/haar gemeenskap was, en vir die Universiteit van die Vrystaat krediet gebring het.
Nominasies op die voorgeskrewe nominasievorm kan skriftelik by die Alumnikantoor by alumni@ufs.ac.za ingedien word. Die genomineerde se kwalifikasie en die jaar waarin die kwalifikasie by die UV behaal is, moet duidelik op die nominasievorm aangedui word. Daarbenewens moet ’n volledige CV van die genomineerde (waaronder sy/haar prestasies) elke vorm vergesel. ’n Keuringspaneel sal die uitnemende kandida(a)t(e) kies sonder inagneming van ouderdom, ras of geslag in die keuringsproses. Die sluitingsdatum vir indiening van nominasies is 12:00 op 30 September 2016.
Die Kanselierstoekenning vir Uitnemende Alumni is in 2015 tydens ‘n noenmaal wat op 29 Augustus gehou is, aan adv Roelf Meyer oorhandig. Die toekennings sal vanjaar tydens ’n galadinee op Saterdag 5 November oorhandig word.
Sommige van die vorige wenners is onder andere bekende persoonlikhede soos: Leon Schuster, ontvanger van die Cum Laude-toekenning, 1992; dr Sheila Aronstam, Joodse geskiedkundige, Kovsie-alumnus van die Jaar, 2013; Tate Makgoe, LUR vir Onderwys in die Vrystaat, wenner van die Alumni Cum Laude-toekenning in 2013; en regter Violet Phatshoane, Regter van die Noord-Kaapse Hooggeregshof, wenner van die Kovsie Alumni-toekenning in 2014.
Vir navrae, kontak Helen Namponya by 051-401-9343, of per e-pos by alumni@ufs.ac.za.
Uitgereik deur die UV