Almero tuis voor klavier

0
124
Almero Welgemoed Foto: Afrikaanse Musiek Nuus

Almero Welgemoed is ‘n nuweling in die musiekbedryf, maar is reeds besig om groot golwe met sy sielvolle lirieke en musiek te maak. Hy het onlangs sy eerste vollengte album, Maandag, vrygestel.

Gebore in die Rosestad, matrikuleer Welgemoed aan die Hoërskool Jim Fouché, en word hy voltydse musikant en skrywer. Dié jong kunstenaar het reeds op skool besef dat hy hom kon uitleef in ‘n wêreld van klavierspeel en boeklees. Op hoërskool het hy en sy broer, Nico, smiddae en saans video’s begin maak en op YouTube gelaai. “Dit was nie baie goeie video’s nie, so gelukkig het ons dit verwyder uit die kubberruim. Tog was dit die begin van ons skeppende reis.”

Die twee broers is saam kreatiewe inhoudsontwikkelaars van ‘n produksiemaatskappy, Kanada Productions. Nico is ‘n foto- en videograaf terwyl Almero die een is wat heeltyd skryf en soveel moontlik mense probeer ontmoet.

Hy het sy eerste vollengte album op 8 Oktober vrygestel. “Ek is verskriklik opgewonde om dit met die wêreld te deel,” vertel hy. Hy beskryf sy musiek as baie storie-gedrewe. Dit is alternatief en vol lirieke wat hy in die nag uitdink.

“Iemand het eendag gesê ek kerm net op noot. Ek hou van daardie beskrywing.”
Om nuut in die musiekbedryf te wees is soms intimiderend en verg uithouvermoë en harde werk. Almero maak dit duidelik dat hy ‘n “fighter” is. Op die vraag watter raad hy het vir jong musikante, antwoord hy, “Loop al langs die muur af, tot jy by ‘n deur kom. Dan klop jy aanhoudend. As jy nie ‘n deur vind nie, moet jy maar besluit of jy die muur wil afslaan of wil omdraai.”

Soos elke ander persoon, het Almero ook ‘n trotse oomblik. Hy vertel hoe ‘n vreemdeling by een van sy optredes opgedaag en haar storie met hom gedeel het. Die musiek wat hy skep, het gehelp dat sy nog lewe. “Sulke oomblikke sal altyd bo op my trots-lysie wees. Ek wens ek kon krediet daarvoor neem, maar ek skryf en skep om myself te help. Indien dit iemand anders help met iets waarmee hulle sukkel, was dit deur en deur die werk van God.”

Sy toekomsplanne? “Ons het heelwat produksieoptredes in die pyplyn vir die res van die jaar. Dalk ‘n toer volgende jaar? Dalk ‘n hond? Ek kan nogal doen met ‘n vrou…” – Jeretha Oosthuizen
jeretha@mahareng.co.za