Allegorie oor ’n vrou se hart vrygestel

0
475
Corinne Badenhorst

Corinne Badenhorst en Anique Jordaan het besluit om Vrouemaand, wat Maandag tot ’n einde gekom het, te vier deur hande te vat met ’n projek vir die vroue van Bloemfontein en die res van die land.

Volgens Badenhorst, skrywer van die boek, Blinkerboom, het sy ná die publikasie daarvan begin skryf aan haar tweede boek, wat ’n allegorie oor vroue is. Jordaan het haar genader om die illustrasies vir die boek te doen.

“Die boek se titel is Blinkers vir ’n Blomtuin en is ’n allegorie oor ’n vrou se hart. Dit is soos ’n kinderjarestorie, maar vir vroue. Aan die einde van die boek is ’n joernaal – vir die leser se hartsreis,” het Badenhorst verduidelik.

Badenhorst het aan Bloemfontein Courant gesê dat hulle graag die “blink” in vroueharte wil terugbring deur hierdie boek, blinkertjies wil versprei, vroue wil inspireer en bemoedig om saam te staan en hulle te help om nie net hul swakhede te omarm nie, maar ook hul sterk eienskappe en mekaar te bemagtig.

Sy het verduidelik dat die idee ontstaan het toe sy gevra is om by ’n vrouekonferensie as spreker op te tree. Die boek is beskikbaar op haar en Jordaan se Instagram- sowel as Facebook-blad. Hulle hoop om teen die tweede week van September die boek vry te stel.

Badenhorst het bygevoeg dat die liedjie, “Blinkerboom”, bykans voltooi is en tans opgeneem word deur Jordaan, wat lid is van die musiekgroep, Kaleidoskoop. Die liedjie, saam met die nuwe boek sal op dieselfde tyd as ander opwindende produkte bekendgestel word.

Sazly Hartzenberg

sazly@centralmediagroup.co.za