Alleen-tye

0
796

Die moderne lewe kan met reg beskryf word as ’n gejaagde tyd. Ons is voortdurend besig en altyd op soek na opwinding. Ons kyk sport op televisie, woon vergaderings by, werk naweek vir naweek en Sondae is ons iewers besig om ’n stokperdjie te beoefen of die laaste inkopies vir die week te doen. Ons skep min geleenthede van stil word en rustiger leef. Die natuur het egter ’n ingeboude tydskedule wat ons herinner aan die stilwordtye in die lewe. In die winterseisoen staan die groeiproses van bome en plante stil. Hulle oorwinter eintlik maar net. Uiteindelik, ná die paar maande van winter, breek die groeiseisoen aan en die plante word groen en wys nuwe lewe. Dit is asof die natuur ons gedagtes opnuut wil fokus op die siklus van lewe – ’n siklus van groei en rus. Tog luister ons min na die stem van die natuur. Ons leef vining en raak min stil. Hoe kan ons die stilte in ons lewe weer terugbring?
• Ons kan dit terugbring deur elke dag iewers ’n stilweesoomblik te skep.
• Dit kan in die oggend wees of wanneer jy alleen vir 10 minute ’n warm bad geniet.
• Ons kan alleentye in die natuur opsoek, op die bankie in die voortuin sit sonder ’n selfoon en dagboek.
• Ons kan in die oprit by die huis soms rustig raak, die voëls se gekwetter in die tuin waardeer en die gras in die droë hoekie van die grasperk sien groei.
Dalk is dit die antwoord vir ’n gejaagde lewe waarin ons bymekaar verby leef en net maar die volgende dag weer moeg opstaan!

Ds. Stephan van Heerden

* Van Heerden is ’n geestelike leier by die NG Klipkerk en ’n pastorale sielkundige.