Al meer mense ly glo by Pelonomi

0
2648
Heidedallers kla steen en been oor diens by die Pelonomi-hospitaal.

Die Jonkers-gesin en talle ander inwoners van Heidedal is net mooi keelvol oor die “nalatigheid” van die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein.
Maria Jonkers sê sy het reeds drie familielede aan die dood afgestaan weens nalatigheid aan die hospitaal se kant, en haar kleinkind se gesondheid is ook besig om daar onder te ly.
Patricia Mc Anda (2), is al in Maart geopereer vir haar tandjies. Dit moes aanvanklik onder narkose gedoen word, dus was sy vir ure lank sonder haar bottel of enige vorm van kos. Die dokter het uiteindelik opgedaag, eers na ‘n dag en ‘n half ná die oorspronklike afspraak. Die tand is toe op die ou einde ná lokale verdowing getrek.
Jonkers is toe na die Nasionale Hospitaal vir ‘n volgende besoek. “Ons is pensioenarisse, ons het nie altyd die geld om so ver na ‘n ander hospitaal te gaan nie,” het sy vertel.
Nadat die dogtertjie se tandjies weer moeilikheid gegee het, is Jonkers
hierdie maand terug met haar
hospitaal toe. “Dit is ‘n baba, en hulle wou haar nie help nie. Ons is aangesê om te wag vir ‘n datum wanner sy moet terugkeer na die hospitaal om na die probleem om te sien” vertel Jonkers.
Die kleintjie is huis toe geneem en hulle verlig nou die pyn met salf en pynstillers. Intussen loop die dogtertjie met ‘n geswelde mond en verduur sy baie pyn.
In ‘n ander voorval toe Jonkers haar heup seergemaak het, was Pelonomi-hospitaal weer eens nie behulpsaam nie. Toe sy daar aangeklop het vir hulp, moes sy bykans 5 uur gewag het voordat personeel ‘n woord met haar gepraat het, en steeds het hulle nie aandag aan haar besering gegee nie. Toe sy wou loop, het ‘n suster haar vinnig vertel as sy voel sy wil loop, moet sy loop. Jonkers het toe geloop en by die pynpille by ‘n kafee gekoop – wat sy tot vandag toe drink.
Die Jonkers-egpaar is hewig onsteld oor die behandeling wat hulle by Pelonomi-hospitaal gekry het. “Hulle verpleegsters sit en speel op hul selfone en pas die dokters op. Die kliniek is vuil en die reuk ondraaglik.” – Jeretha Oosthuizen
info@bloemfonteincourant.co.za