Al meer honde in Bfn vasgeketting

0
618
‘n Vasgekettingde hond het geen beweegruimte nie en kan maklik beseer word.

Die Rosestad ondervind tans ‘n kommerwekkende toename in die voorkoms van vasgekettingde honde. Dit aldus die Bloemfonteinse Dierebeskermingsvereniging (DBV).

Wanneer honde-eienaars ‘n hond vir ‘n lang tydperk aan ‘n voorwerp vasmaak, kan dit baie nadelig vir ‘n hond wees. Dit beperk nie net die dier se bewegings nie, maar hy kry nie die nodige oefening nie, en dit kan tot beserings lei. “Daar is ‘n groot aantal honde wat aan kettings vasgemaak word. Dit is ongelukkig reeds vir baie jare die geval,” sê senior inspekteur van die DBV, Reinet Meyer.

Sy vertel dat ‘n loslopende hond in jou erf die beste opsie is en dat geen troeteldier se vryheid van beweging beperk behoort te word nie. “Net soos ons vry wil wees, so wil ons troeteldiere ook. Honde kan erg beseer word wanneer hulle hulself aan die ketting opwen. Ongelukkig is daar ook ‘n moontlikheid dat die dier nie by sy kos, water of ‘n skuiling kan uitkom as hy vasgebind is nie. Vreemde, loslopende diere kan ook die hond aanval en hy het dan geen kans om weg te kom nie,” sê Meyer.

Die DBV voel ongelukkig oor die baie diere wat vasgemaak word. Omdat dit vir baie van hulle onmoontlik is om skuiling te soek, gebeur dit dat die diere, veral in die somerhitte “vreeslik brand in die son”. Meyer sê dat die organisasie selfs al gesien het hoedat ‘n ketting diep in ‘n hond se nek ingebrand word deur die son, veral as die dier nie ‘n halsband dra nie.

Die organisasie probeer voortdurend lede van die gemeenskap opvoed. Meyer stel voor dat ‘n loopdraad gespan word wanneer ‘n person se troeteldier nie vry kan rondloop op ‘n erf nie. “ Die Loopdraad gee baie meer beweegruimte aan daardie dier.”

Pierce van Heerden

pierce@mahareng.co.za