Aktivis slaan voet teen plaasmoorde

0
1685
Die span wat Dinsdagmiddag in Bloemfontein aangekom het, is van links Mangaliso Nyila, Petrus Phakamile Sitho en Sakhumzi Qave. FOTO: SAZLY HARTZENBERG

Met plaasmoorde in die kollig en die land wat antwoorde soek, het aktivis Petrus Phakamile Sitho van Bultfontein in die Vrystaat besluit genoeg is genoeg en honderde kilometer teen plaasmoorde en vir vrede in Suid-Afrika begin stap.

Sitho het in Oos-Londen in die Oos-Kaap begin en is op pad na Senekal, waar Brendin Horner vermoor is. Boere lê vir Sitho na aan die hart omdat sy ma en pa ook op plase werk.

Hy het Dinsdagmiddag in Bloemfontein aangekom, nadat hy elke dag, vir vyf dae lank, meer as 100km gestap het en dikwels sopnat gereën het aangesien hy en sy stapmaats nie oor beskerming teen die weer beskik nie.

Volgens Sitho het hy twee jaar gelede, in 2018, besluit om op te staan teen plaasmoorde, geweld en geslagsgeweld. Hy het vertel dat hoewel hy met die bewusmakingsveldtog begin het, hy dit nie alleen kan doen nie. Hy voel dat die land nou moet saamstaan.

Hy het aan Bloemfontein Courant verduidelik dat hy op die idee gekom het nadat die Here dit hom op die hart gelê het terwyl hy gebid het. Hy het elke keer uitgestel totdat hy vir homself gesê het hy wíl ‘n verskil maak. Dit is vir hom moeilik om soveel kilometer per dag te stap, sy lyf word seer, maar die wete dat hy dit vir sy land doen, maak dit die moeite werd.

Sitho sê dat mense nie besef die boere is die mense wat ons van kos voorsien nie en dat ons nie sonder hulle sal regkom nie. Hy het groot lof vir die mense wat langs die pad vir hom en sy spanmaats water bring en slaapplek gee by van die plekke waar hulle kom.
“As ek in Senekal kom, sal ek graag met Horner se familie praat en ook met die mense van daardie dorp.”

Sitho vra nederig vir skenkings aan hom en sy dapper spanmaats, Thabang en Sakkie, wat saam met hom stap. “Die fondste wat inkom, sal gebruik word om gate toe te stop. Ons is nog in die beginstadium van die veldtog, wat nog baie meer gaan uitbrei.”

Mense wat ‘n bydrae wil maak, of hulle wil borg, kan ‘n e-pos stuur na petrussitho@gmail.com of 073-008-4105 skakel.

Sazly Hartzenberg

sazly@centralmediagroup.co.za