Agt skole in Amanda Coetzer-tennistoernooi in aksie

0
1071

GEORG VAN ECK

Die gewilde jaarlikse Amanda Coetzer-tennistoernooi van Hoër Meisieskool Oranje vind weer hierdie week in Bloemfontein op die bane van die skool plaas en topspanne van agt skole sal in aksie wees. Oranje sal sy titel verdedig en kan veral stewige teenstand van twee skole van Stellenbosch, Waterkloof en ander skole van Oos-Londen, Paarl en Pretoria verwag. Die Oranje-span se aanslag sal waarskynlik deur die 2013 Vrystaatse Ope vroue-kampioen, Huibre-Maré Botes, en haar tweelingsuster, Louise-Maré, asook Amanda Coetzer se susterskind, Nieke Fichardt, gelei word.

Isabel Fichardt, Amanda se suster en Nieke se ma, is die afrigter van die Oranje-span. Die Botes-susters, wat in die Suid-Afrikaanse junior Fedbeker-span ingesluit is, is ook die Vrystaatse Ope vroue-dubbelspelkampioene. Skole wat in askie sal wees, is:
Paarl Gimnasium, Clarendon van Oos-Londen, Afrikaanse Hoër Meisieskool van Pretoria, Meisieskool Bloemhof van Stellenbosch, Menlopark van Pretoria, Waterkloof van Pretoria, Stellenbosch en Oranje.

Die amptelike opening van die prestige-toernooi vind moreoggend om 08:30 by die skool plaas. Die wedstryd sal môre, Vrydag en Saterdagoggend beslis word. Soos in die verlede word uithaler-tennis verwag en gaan die spanne mekaar weer opkeil vir dié gesogte titel.