Age in Action, Vrystaat lewer nasionale wenner op

0
501

Daar het nog nooit twyfel bestaan oor die talent van die sentrale streek se ouer persone as dit kom by die Mooigoed vir Kleingoed-projek wat Age in Action, in samewerking met Shoprite, op ‘n jaarlikse basis aanbied nie. Vanjaar het selfs ‘n nasionale wenner opgelewer.
Gladys Myburg (64) van Fichardtpark het skoonskip gemaak in die klere-afdeling met ‘n pragtige rokkie vir ‘n meisie. As daar na die detail van die rok gekyk word, is dit geen wonder dat sy as wenner gekroon is nie.
Die oudste man in die Vrystaat wat aan vanjaar se projek deelgeneem het, was die 82-jarige Adriaan Dominicus met 80 artikels, terwyl die oudste vrou, die 92-jarige Dorothea Malan, met vyf artikels gespog het – voorwaar prestasies om op trots te wees.
Dit was egter Limpopo se Elizabeth Ledwaba (81) wat met 242 artikels kop bo skouers bo die res van die deelnemers uitgestaan het.
In geheel het die Vrystaat vanjaar die vierde meeste (2031) artikels gelewer. Die Oos-Kaap was eerste met ‘n allemintige 4880 artikels, gevolg deur die Wes-Kaap met 2329.
Die Vrystaat se Pieter Pelser (73) van Brandfort het ‘n algehele derde plek in die Ander-afdeling behaal met ‘n pragtige, kleurvolle hout-trein wat enige seuntjie se hart hierdie Kersfees vinnig sal laat klop.
Die prestasies in die Vrystaat vir 2015 lyk soos volg:
Sagte speelgoed (1ste tot 3de): Daphne Dowie; May Hughes; Martha Humpel.
Komberse: Elize Oliver; Magda Marais; Susan Maree.
Klere: Gladys Myburgh; Petronella Coetzee; Jane Lintoe.
Ander: Pieter Pelser; Adriaan Dominicus; Willie Maree.
Die meeste artikels deur ‘n organisasie of klub in die provinsie ontvang, was vanjaar weer van die Sally Martin Park-afreeoord in Parys. – Owen Kock

owen@centralmediagroup.co.za