‘Ag nooit jou eie vermoë te hoog’

0
225
Foto: Woodchuck USA

“Soveel tale as ek kan, soveel male is ek man.” My ma het gereeld hierdie gesegde van Langenhoven aangehaal toe ek klein was.

En toe ek op hoërskool kom, toe gryp ek die geleentheid aan om sommer drie maal man te wees. Ek kies Duits as derde taal.

Ons onderwyseres op Senekal was die formidabele “Frau Nel”, oftewel Ou Bok soos almal haar geken het. In haar klas moes jy nét Duits praat. Sy kweek ook ‘n liefde vir Duitsland by ons.

Ek onthou hoe ek ons voorgeskrewe boek, Zwischen Alpen und Nordsee, verslind het. Ek het drome gedroom oor ‘n besoek eendag aan die land tussen die Alpe en die Noordsee.
Na skool het ek probeer keer dat my woordeskat verroes. Ek het selfs ‘n lywige Konsalik-boek in die oorspronklike Duits gelees. Die kontak soms met Duitse toeriste en uitruilstudente het my breëbors laat voel dat my kommunikasie- en begripsvermoëns in my derde taal op ‘n hogere vlak was.

Tydens ‘n internasionale jeugtoer in Taiwan in 1984 het ek die jonge dames in die Duitse afvaardiging eindeloos beïndruk my “perfekte” aksent waarin ek Duitse gedigte voorgedra het.

En toe kry ek ‘n geleentheid om Duitsland te besoek. Toevallig kom ek en my vrou met die trein van Amsterdam af in Bonn aan, laatmiddag op daardie historiese dag in 1990 toe Wes- en Oos-Duitsland amptelik een word.

Ons kry haastig ‘n hotel en teen skemeraand vaar ons die strate in op soek na die stadsplein, waar ons uiteindelik saam met derduisende Duitsers ronddans as deel van die geskiedkundige feesvieringe.

Dis laat toe ons terugkeer. Ek kan glad nie die hotel se naam onthou nie, maar ek’t darem die straat gememoriseer. Ons het ook skaars begin terugstap, of ek sien ons straatnaam op ‘n bordjie.

Ons stap en ons stap en ons stap, maar niks lyk bekend nie. Ek wéét dis die regte straat. Ons hotel is beslis in Einbahnstrasse. Eers baie later sou dit tot my deurdring dat Einbahnstrasse die Duitse woord vir eenrigtingstraat is.

‘n Mens moet maar nooit jou eie vermoëns te hoog aanslaan nie.

Albé Grobelaar