Aftreeoord se roosfees raak ‘n bielie

0
175
Retha Wolvaadt by die pragtige roosbome in haar tuin. FOTO HEIDRE MALGAS

Die Noorderbloem-aftreeoord se roosfees, wat vanjaar op 23 Oktober in die Noorderbloem-gemeenskapsaal aangebied word, is besig om van ‘n klein lokale roosfees te ontwikkel tot ‘n krag om mee rekening te hou.

Met Bloemfontein se amptelike Rosefees wat waarskynlik nie vanjaar aangebied gaan word nie, is alle oë nou op Noorderbloem se roosfees gevestig. Inwoners van die aftreeoord skryf hul rose die aand van 22 Oktober in, en die beoordeling vind vroeg die volgende oggend plaas.”

Die roosfees is egter nie die enigste ding wat ‘n besoek aan Noorderbloem op dié dag die moeite werd maak nie. Die oord se jaarlikse Kersmark word dieselfde oggend in die aangrensende saal gehou waar ware uitgestal word in verskillende stalletjies. Daarmee saam word die normale eetgoed, soos braaivleis, te koop aangebied. Retha Wolvaardt, ‘n inwoner van Noorderbloem, het die inisiatief geneem om die aftreeoord se eie roosfees te hou en so die inwoners die geleentheid te gee om met hul mooi rose te kan spog.

“Hier is die pragtigste rose in die oord en ons roosfees gaan van krag tot krag. Die rose kom net van inwoners van die oord af en daar is nou baie meer inskrywings as verlede jaar, toe daar meer as 200 was. Dit beteken dat dit elke jaar groter word,” sê dr. Manie Wolvaart, inwoner van Noorderbloem.

Daar is verskeie kategorieë, onder meer vir edelrose, oop rose, trosrose en miniatuur rose. ‘n Bekende plant- en tuinbou-onderneming skenk ook groot pakkette kunsmis en insekmiddels aan die wenners.

Retha Wolvaart sê die roosfees behels maande se beplanning. “Van die inwoners begin hul rose in winter behandel sodat dit teen die tyd van die feeskompetisie gereed is. Daar is 23 pryswenners en hierdie jaar hou ons ‘n lentetee om die pryse ‘n vrolike wyse te oorhandig.”
Die oord nooi graag alle roosliefhebbers van die stad uit om die skouspel van pragtige rose te kom besigtig.

Die saal sal op 23 Oktober tot 17:00 die middag oop wees.

Heidre Malgas

heidre@mahareng.co.za