Afrikaanssprekende leerders glo nie deur ‘n skool in Bloemfontein weggewys nie

0
800

Die Vrystaatse onderwysdepartement het ontken dat die Sekondêre Skool Dr. Blok in Heidedal, Bloemfontein, nie Afrikaanssprekende leerders toelaat nie. Dit kom nadat ‘n groep plaaslike ouers Woensdag die josie in was nadat hul kinders deur dié skool weggewys is. Daar was glo nie plek vir almal wat aansoek gedoen het nie. Volgens ‘n ontevrede ouer, Elizabeth Buffel, het die skool glo aangedui voorsiening word vir Engels- en Sothosprekende leerlinge en nie vir Afrikaanssprekendes gemaak nie.

Buffel het Woensdag aan OFM-nuus gesê haar gr.8-dogter is nie die enigste leerder wat weggewys is nie. Onderwyswoordvoerder, Howard Ndaba, sê Dr. Blok is ‘n dubbelmedium-skool en sommige ouers het te laat geslaap met hul kinders se aansoeke.  

Ouers kan nie met die heropening van skole eers aansoek doen vir hul kinders om tot dié skool toegelaat te word nie. Dit is té laat al bly die ouers in Heidedal, sê Ndaba. Hy vra ouers se samewerking om die skool ‘n geleentheid te gee sodat hulle kan vasstel hoeveel leerders, wat vroegtydig aansoek gedoen het maar nie opgedaag het nie, daar is. Die skool is in die proses hiermee en sal teen Maandag meer duidelikheid hê.

Volgens Buffel het sy glo al verlede jaar die betrokke aansoekvorms vir haar dogter se toelating tot die skool voltooi. Sy moes in Januarie glo teruggekeer om uit te vind of die aansoek suksesvol was. Buffel meen die skool is stampvol, omdat kinders van nabygeleë gebiede toegelaat word, terwyl plaaslike kinders weggewys word. – Christal-Lize Muller