Afrikaanse rapper klim leer na sukses

0
705
Justin Ledimo, beter bekend as BOU

Die 27-jarige Justin Roger Ledimo, bekend vir sy verse van aanmoediging en waarheid wat tot uiting kom in sy musiek, maak tans golwe in die musiekbedryf. Selfverwesenliking, verhoudings, ambisie, gevoelens van minderwaardigheid en selfs die gewone op en af waarmee almal in die lewe te doene kry, is deel van sy musiek.
Ledimo, wat in Heidedal gebore is en grootgeword het, is sedert 2009 in Pretoria besig om sy musiekdroom te volg. Hy het met musiek in sy huis grootgeword en van jong ouderdom af ‘n liefde daarvoor ontwikkel. Dié Afrikaanse rapper het al vier musiekvideo’s op sy YouTube-bladsy uit sy liedjies Alles, Ons Beweeg, Amper Da en Vrae.
Volgens Ledimo, wat ook bekend is as “BOU”, is rapmusiek nooit in hul huis toegelaat nie omdat baie van die liedjies vulgêr geklink het. “Ek is bekend gestel aan hip-hop in graad 3 deur my ouer neefs wat 24/7 daarna geluister het, maar ek is verbied om dit in ons huis te speel. Dus het ek altyd my neefs besoek net sodat ek kon luister na kunstenaars soos Tupac, Eminem en 50cent en saam rap sonder om die hele tyd oor my skouer te kyk of my ouers my sien,” vertel Ledimo. Hy het ook ‘n nuwe projek op Soundcloud, getiteld Fleurtaal digitaal vrygestel. “My planne vir 2019 is om die EP waaraan ek gewerk het, vry te stel. Ek wil ook nog ‘n paar video’s skiet wat op televisie sal speel, en besprekings vir optredes kry.” – PIERCE VAN HEERDEN

pierce@mahareng.co.za