Afrikaans-woordeboek help jonges die taal ‘gooi’

0
663
Janice Scheepers

Janice Scheepers, ‘n vertaler van Heidedal, het in die grendeltyd ‘n Afrikaans-woordeboek geskryf om kinders te help om die taal te verstaan, te praat en te skryf. Die woordeboek, My First Afrikaans Dictionary, is binne ‘n maand deur Scheepers geskryf.

Sy sê die belangrikste vir haar is dat sy haar moedertaal bevorder en publisiteit daaraan gee. Sy voel dat sy hierdeur ander kan help om Afrikaans te leer en terselfdertyd haar passie vir die taal kan uitleef.

Sy wil graag hê dat kinders hul woordeskat en kennis van Afrikaans sowel as Engels verbeter, aangesien die brein van ‘n jong ouderdom gestimuleer kan word om veeltalig te wees.

Die woordeboek is geskik vir alle kinders jonger as 7 jaar.

“Afrikaans is ‘n pragtige taal en baie mense voel dis ‘n taal wat besig is om uit te sterf. Die taal lê my baie na aan die hart omdat ek uit ‘n Afrikaanse huis kom.”

Scheepers vertel dat die pandemie haar gedryf het om aan ander maniere te dink om konstruktief besig te bly. Die enigste ding tot haar beskikking was die internet.

Daar was gereeld aanlynadvertensies of geleenthede om Engels te onderrig in ander lande. Die vereistes was egter bo haar vuurmaakplek en met dié dat die meeste instansies in die grendeltyd gesluit was, het dit haar nie met baie keuses of opsies gelaat nie.

Sy het toe begin soek na geleenthede in haar eie taal en op die organisasie Kasahorow afgekom. “Kasahorow is ‘n nie-winsgewende organisasie in Ghana wat Afrikatale bevorder en woordeboeke beskikbaar stel deur middel van tegnologie, soos die internet en die bekende koerierdiens, Amazon,” vertel sy.

Die woordeboek verskaf prente en illustrasies wat met ‘n spesifieke woord verband hou. Dit maak dit makliker om in die werklikheid die woorde toe te pas en te verstaan.
My First Afrikaans Dictionary is vir eers beskikbaar by Amazon teen $14.64.

“Suid-Afrikaanse instansies wat belang stel is welkom om met ons in verbinding te tree. Ek deel gereeld die skakel om die woordeboek te gebruik op die Facebook-blad ‘Afrikaans Kasahorow’,” sê Scheepers. Bel 083-380-2839 met navrae oor die boek.

Heidre Malgas
heidre@mahareng.co.za