Afrika se Sterkste Man ‘n trotse Bloemfonteiner

0
593
Chris Van der Linde tydens die Africa Strongest Man-kompetisie 2019. FOTO: FACEBOOK

Chris van der Linde, gebore en getoë in Bloemfontein, is onlangs as Afrika se Sterkste Man 2019 gekroon en dié 28-jarige het nóg groter planne vir die toekoms. Van der Linde het die titel verower tydens die kompetisie wat gehou is by die Aasvoël-oord naby Rustenburg (NW) en beplan om eendag aan die Wêreld se Sterkste Man-kompetisie deel te neem.
In die pro-afdeling, ‘n uitnodigingsbyeenkoms waaraan hy deelgeneem het, was daar vyf atlete van regoor Suid-Afrika betrokke. Die kompetisie, wat oor twee dae plaasgevind het, het sewe verskillende byeenkomste gehad, waaronder verskillende aktiwiteite soos die circle walk 250kg, axle deadlift, conventional deadlift en nog baie meer.

Chris Van der Linde tydens die Africa Strongest Man-kompetisie 2019. FOTO: FACEBOOK

Volgens Van der Linde het dit ‘n tydjie geneem om in te sink dat hy nou die sterkste man in Afrika is, maar toe dit hom tref, het dit goed gevoel. “Ek is baie dankbaar en geseënd om ‘n ongelooflike ondersteuningstelsel te hê wat dit vir my moontlik maak, veral my vrou en familie se ondersteuning. Hulle ondersteun my fantasties en verstaan dat ek moet oefen. ‘n Mens het ook meer selfvertroue om jou vaardighede en jou liggaam tot nuwe hoogtes te dryf,” sê hy. Hy vertel, “Die swaarste moving lift wat ek gedoen het, was ‘n yoke walk van 500 kg en my swaarste static lift is die silver dollar-deadlift van 445 kg.

Van der Linde, wat as konstruksiebestuurder in padbou werk, is voortdurend op pad en tussen dorpe, maar sorg dat hy op Saterdae en Sondae minstens drie uur lank oefen. Behalwe die oefening geniet hy dit om te lees of om saam met sy vrou op Netflix na dokumentêre films te kyk.

Hy het voorheen rugby gespeel en gereeld saam met sy ma in die gimnasium geoefen. “Ek dink my passie vir oefen het daar begin. Ek was nog altyd van nature sterk en toe een van my vriende my eendag vra om saam voor te berei vir ‘n sterkmankompetisie, het ek begin oefen. Ek is baie kompeterend en ek glo as jy begin met iets, jy dit na die beste van jou vermoë moet doen. Ek glo dié kompetisie is ‘n ware vertoning van krag, een van die redes waarom ek daaraan deelneem.”

Van der Linde het vir ses jaar met gewigte geoefen en daarna nog ses jaar vir sterkmankompetisies voordat hy die Afrika se Sterkste Man-titel gewen het.

PIERCE VAN HEERDEN
pierce@mahareng.co.za