‘n Uitgebreide versameling werke getiteld Call and Response deur die bekende fotograaf Cedric Nunn kan tans in Oliewenhuis-kunsmuseum besigtig word. Hierdie is sy eerste mid-loopbaan- retrospektiewe uitstalling met foto’s van die laat-1970’s tot vandag en vertoon ‘n voorheen onbekende Afrika-wêreld. Die uitstalling toer tans deur die land. Nunn het op ouderdom 25 jaar professioneel as fotograaf begin werk toe Suid-Afrika in 1983 een van die donkerste tydperke in die geskiedenis binnegegaan het. Hy het by die agentskap Afrapix aangesluit en was vasberade om beelde van die lewe in Suid-Afrika wat hy nie in die media kon sien nie, vas te vang. Byna 30 jaar later is hy goed gevestig as een van Suid-Afrika se belangrikste fotograwe. Sy werk beeld die Suid-Afrikaanse fisieke en politiese landskap breedvoerig uit, asook byeenkomste, begrafnisse en die vroeë 1990’s se belangrike politieke gebeure rondom Nelson Mandela se vrylating uit die tronk.
Nunn se kragtigste werke fokus op individue en lewens in meer afgeleë dele. Hy het ‘n skatkis van beelde in landelike KwaZulu-Natal, van waar sy eie familie kom, vasgevang. Die landelike lewe word weergegee en dien as een van die belangrikste rekords van landelike Suid-Afrika onder apartheid. Sy foto’s dui op ‘n diepe deernis met mense wat sukkel om onder moeilike omstandighede ‘n bestaan te maak en meeste van sy werk het inligting oor waar hy in die huise van die pagboere en hul gesinne was, of in plattelandse klaskamers, of saam met vroue oor velde gestap het terwyl hulle water en vuurmaakhout aandra.
Call and Response is deur Ralf Seippel en Jacob Lebeko saamgestel en kan tot 17 Junie in Oliewenhuis gesien word.