AfriForum se Rayton-Heuwelsig-tak in Bloemfontein het onlangs padmerke op die hoek van Curlewis- en Raytonweg, asook Dan Pienaar-rylaan geverf om dit meer sigbaar te maak.
Die tak se buurtwaglede, patrolleerders en brandbestrydingspan het ook aan die projek deelgeneem.
Volgens Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder in Bloemfontein, kan onduidelike padmerke verwarring skep, wat tot motorongelukke kan lei.
“Ons kan nie net terugsit en toekyk hoe Bloemfontein agteruitgaan weens die munisipaliteit se swak bestuursvernuf nie, daarom het die tak die inisiatief geneem om die padmerke oor te verf.
“Dit verhoog padgebruikers se veiligheid en verbeter ook die algehele netheid van die paaie. Ons gemeenskap se veiligheid word eerste gestel, en ons sal ons bes doen om projekte soos dié volhoubaar te maak, ” sê Groenewald.
Hy beklemtoon egter dat AfriForum ook die ondersteuning van die gemeenskap en sakeondernemings nodig het om Bloemfontein weer tot sy volle glorie te herstel.
Saamgestel deur Blaine Jones