AfriForum stel vullisverwyderingsdiens in Bfn bekend

0
814

Ná talle inwoners klagtes van swak dienslewering aangaande vullisverwydering by AfriForum ingedien het, gaan dié burgerregteorganisasie eersdaags ’n vullisverwyderingsdiens aan inwoners van die stad lewer.

Volgens die organisasie is daar op 18 Augustus ’n aanmaning aan die munisipaliteit gestuur om dringend aandag aan dié probleem te gee, maar geen terugvoer is ontvang nie.  Volgens AfriForum se hoof van Gemeenskapstrukture vir die sentraalstreek, Jaco Grobbelaar, is dié projek van stapel gestuur met die doel om vullisverwydering in die stad op ’n volhoubare wyse te laat geskied.

“Die Mangaung Metro versuim om sy daadwerklike pligte teenoor die gemeenskap na te kom. Boonop hou vullis wat vir maande langs die straat staan ’n gesondheids- en veiligheidsrisiko vir die gemeenskap in en dit is ons plig as burgerregteorganisasie om te verseker dat basiese dienste gelewer en burgerregte beskerm word,” sê Grobbelaar.

Volgens hom gaan  munisipale dienslewering in die toekoms net verder verswak weens wanbesteding en korrupsie onder munisipale amptenare.

AfriForum beoog om hierdie diens aan die begin van September uit te rol. AfriForum-lede wat van dié diens gebruik wil maak, sal ’n bedrag van R163 per maand betaal en nie-lede R179.

Inwoners wat vir die diens registreer, sal elke maand 15 AfriForum-vullissakke ontvang en die vullis sal een keer per week verwyder word. Die diens sluit die verwydering van sowel huishoudelike as tuinvullis in.

Inwoners kan by die projek aansluit deur AfriForum se webtuiste by www.vullisverwydering.afriforum.co.za te besoek of “Vullis” na 45266 te SMS (R1). Die volledige vullisverwyderingskedule is op die webtuiste beskikbaar.

info@bloemfonteincourant.co.za