AfriForum skep ‘n veiliger en skoner stad

0
289
Lede van die Afriforum-tak in Bloefmontein besig om vullis in die stad op te ruim. FOTO: Verskaf

Die AfriForum-takke in Bloemfontein het verlede maand verskeie skoonmaakprojekte en veiligheidsinisiatiewe aangepak in Langenhovenpark, Uitsig, Universitas, Wilgehof, Hospitaalpark, Rayton-Heuwelsig, Bloemfontein-Noord en Fichardtpark met die doel om ‘n veiliger en skoner stad te skep.

“Veiligheid en netheid bly ’n prioriteit vir ons gemeenskap. Hierdie suksesse is ook te danke aan ons buurtwaglede se harde werk om die gemeenskap te bedien. Ons het uitstekende verhoudings met verskeie sekuriteitsmaatskappye en ons moedig ondernemings en ander lede van die gemeenskap aan om ons hande sterk te maak deur betrokke te raak by hierdie projekte. Ons almal streef na ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms nie net vir onsself nie, maar ook vir ons kinders,” sê Christo Groenewald, die distrikskoördineerder vir Bloemfontein.

Die tak het in Fichardtpark ’n privaat-kontrakteur, Waste Retrievers, aangestel om die buurt se vullissakke te verwyder.

Altesaam is agt groot trokvragte vullis verwyder. Die kontrakteurs het ook in hul rotasie-week in Fichardtpark gefokus op die vullis wat rondlê in Benaderylaan, Olive Grinterweg, Hudsonweg en Castelynweg. Verder is daar gefokus om sypaadjies en stormwaterdreine skoon te maak by die Fichardtpark-kliniek, die NG kerk Fichardtpark, en om die Hoërskool Fichardtpark.

In Uitsig, Generaal De Wet en Pellissier is vullis opgetel wat in die strate rondgelê het, sowel as in die parkie waar rommelversamelaars deur rommel sorteer en nie altyd die park skoonmaak ná die tyd nie. In Hospitaalpark is daar gefokus om die onkruid te verwyder in Pasteurrylaan sowel as om die sypaadjies skoon te maak.

Die Rayton-Heuwelsig-tak het reeds drie parke as deel van hul volhoubare skoonmaakprojek skoongemaak en word in hierdie projek ondersteun deur Anchor of Hope. Die parke wat tans deur die tak skoongemaak word, is die parke in Lucas Steyn-, Flockemanstraat en David Bothasingel.

“Ek wil ook almal aanmoedig dat indien inwoners voor hul erf skoonmaak om ook die sypaadjies en velde voor hul woning so skoon as moontlik te hou. Dit sal reeds bydra tot ’n mooier en skoner woonbuurt waarop almal kan trots wees,” sê Groenewald.

AfriForum se Langenhovenpark-buurtwag het ook op 25 Junie ’n suksesvolle operasie saam met AfriForum se lugsteunvleun gehou, waartydens verdagtes vasgetrek is wat in besit was van brandstof wat gesteel word uit vliegtuie by die Tempe-lughawe.

Die verdagtes is aan die SAPD oorhandig. Verskeie klagtes is teen die verdagtes geopen en die saak word verder deur die polisie ondersoek. Gedurende Junie is 160 patrollies deur 54 patrollielede afgelê.

Justine Fortuin
justine@mahareng.co.za