Die AfriForum-buurtwagte in Bloemfontein het op 15 Februarie saam met die plaaslike Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), ambulansdienste, privaat brandweerdienste, soek-en-reddingsdienste en sekuriteitsmaatskappye ’n magsvertoning georganiseer vir kinders wat moedig teen kanker veg by die Universitas Akademiese Hospitaal.
Volgens Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein, het die verskeie rolspelers tydens hierdie geleentheid teddiebere uitgedeel vir die kinders en ook nie-bederfbare produkte by die Choc Huis oorhandig vir die gesinne van kinders wat aan kanker ly.
“Hierdie tipe aksies bring ook vir die kinders hoop. Hulle weet dat ons aan hulle. Hulle veg elke liewe dag teen hierdie siekte en die minste wat ons kan doen, is om hulle bietjie te bederf en te bemoedig. Ons wil ook graag die personeel bedank wat elke dag saam met hierdie klein vegtertjies die stryd aandurf,” sê Groenewald.
Hy voeg by dat AfriForum se Bloemfontein-buurtwagte en hul vennote hul ondersteuning aan die kinders en hul gesinne wys as deel van die organisasie se volgehoue poging om die gemeenskap te steun en ’n verskil te maak in hul lewens.
Saamgestel deur Justine Fortuin