AfriForum rol moue op in nuwe jaar

0
404
'n Lede van AfriForum besig om gras te sny.

Die burgerregte-organisasie, AfriForum, se takke in die Rosestad het reeds verskeie projekte in die nuwe jaar aangepak, insluitend om veiligheid in die stad te verbeter.

Die organisasie het onder meer verskeie woonbuurtes se slaggate gevul, skoonmaakprojekte van stapel gestuur, en talle parkies opgeknap.

AfriForum-buurtwagte het ook heelwat suksesse behaal, waaronder die inhegtenisneming van ’n verdagte persoon wat met dwelms betrap is, asook die inhegtenisneming van ’n vermeende kabeldief wat onder meer gesteelde juwele in sy besit gehad het.

Volgens AfriForum se distrikskoördineerder, Christo Groenewald, werk die onderskeie takke hard om ’n verskil in die gemeenskappe te maak en moedig hulle dus gemeenskapslede aan om betrokke te raak en saam ’n verskil te maak.

“Ons kan nie agteroor sit en kyk hoe die munisipaliteit aanhou om die gemeenskap in die steek te laat nie. Die verantwoordelikheid berus by ons om die netheid en veiligheid van ons gemeenskap te bevorder,” het Groenewald gesê.

Volgens hom het die AfriForum-netwerk in Bloemfontein verskeie strukture in plek om verskillende uitdagings aan te pak, wat hulle ’n geleentheid bied om ’n daadwerklike verskil in die gemeenskap te maak.

“Ons sal voortgaan met ons aksies om Bloemfontein veilig en netjies te hou sodat almal ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms kan hê,” het Groenewald gesê.

Saamgestel deur Pierce van Heerden

info@bloemfonteincourant.co.za