AfriForum-lede red ’n lewe

0
631
VR Med paramedici op die toneel saam met AfriForum buurtwag. FOTO: AfriForum

AfriForum se buurtwagte het die afgelope naweek aan die organisasie se nasionale patrollie deelgeneem. Die patrollie se doel was om sigbaarheid te verhoog en hulp te bied by noodgevalle.

In Bloemfontein het een van die buurtwaglede Vrydagaand ’n man in Fleurdal met ’n steekwond in sy kop opgemerk terwyl hy gepatrolleer het. Hy het die ander patrolleerders, asook mediese hulp, na die toneel ontbied.

Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein, wat ook ’n paramedikus is, het op die toneel aangekom en het dadelik sy mediese toerusting uitgehaal om die bloeding te probeer stop. “Net toe die bloeding onder beheer was, het die man sy bewussyn verloor en ek kon nie meer sy polsslag voel nie,” het Groenewald gesê. “Ons het dadelik kardiopulmonêre resussitasie (KPR) toegepas. VR Med-ambulansdienste is gekontak omdat ons reeds lank vir die staatsambulans gewag het.”

Die man het weer bygekom. VR Med het hom verder behandel en hy kon met die paramedici praat. Hy is na die Pelonomi-hospitaal se trauma-eenheid geneem vir verdere behandeling.

“Die belangrikheid van opleiding en die regte toerusting op só toneel is van kardinale belang,” het Groenewald gesê. “Danksy die vinnige optrede en reaksie van die buurtwaglede en VR Med kon die man dadelik die nodige behandeling ontvang. As dit nie was dat die buurtwaglid die man tydens die patrollie opgemerk het nie, sou hy gesterf het.”

Oorspronklik van AfriForum Nuus