AfriForum in Bfn skenk handreiniger aan talle instellings

0
756
AfriForum se nege take in Bloemfontein het handreinigers aan verskeie plaaslike instellings, waaronder Netcare 911, geskenk.

Nadat AfriForum onlangs oorval is met versoeke van verskeie instellings, het die organisasie se nege takke in Bloemfontein die afgelope twee weke 500 liter handreiniger aan talle groepe geskenk om die veiligheid van inwoners en personeel te verseker.

Van die instellings wat hierby baat gevind het, sluit in die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW), brandweerdienste, verkeersdepartemente, ’n skool vir outistiese kinders, ’n nasorgsentrum vir gestremde persone en verskeie tehuise vir bejaardes.

Joseph Renaud, AfriForum se veiligheidshoof vir die sentraalstreek, sê in ‘n verklaring die Covid-19-krisis het tehuise vir bejaardes en diensorganisasies onkant betrap en hulle was nie voorbereid op die toename in die gebruik van mediese voorraad nie.

“Dié voorraad is boonop moeilik bekombaar en instansies word uitgebuit met buitensporige pryse omdat die aanvraag vir handreiniger nou aansienlik hoër is. Personeel van die instansies wat handreinigingsmiddel ontvang het, is daarom baie dankbaar vir die bydrae wat AfriForum aan hulle gemaak het,” sê Renaud.

Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Rosestad, sê dit was ’n voorreg om Bloemfontein se noodsaaklike personeel in hierdie tyd van inperking te kon ondersteun en sovêr moontlik veilig te kon hou.

“Hulle is verantwoordelik daarvoor om die mees kwesbare lede van die gemeenskap te versorg. Ons is opreg dankbaar vir elke nooddienswerker wat hul eie gesondheid opsy plaas om na die publiek, wat hulle veral nou baie nodig het, om te sien,” sê Groenewald.

Die volgende instansies het skenkings ontvang:

  • SANW 3 Militêre Hospitaal
  • Militêre polisie
  • Munisipale verkeersdepartement
  • Provinsiale verkeersdepartement
  • Mangaung-brandweerdienste
  • Lettie Fouché Skool vir outistiese kinders
  • VS Nasorgsentrum vir gestremde persone
  • Rosenheim-aftreeoord se versorgingseenheid
  • Fichardtpark-aftreeoord se versorgingseenheid
  • Bayswater-aftreeoord se versorgingseenheid
  • Stirling Mediese Sentrum
  • ER24
  • MED24
  • Netcare 911
  • VR Sekuriteit
  • ITR Sekuriteit

Pieter Delport

pieterd@mahareng.co.za