AfriForum dien GOP-voorstelle by Mangaung in

0
454

AfriForum in die Rosestad wil hê die Mangaung-metro moet dringend aandag gee aan die opgradering en instandhouding van vullisterreine, waterwerke, paaie, parke, straatligte en riolering in die stad.

Om dié rede het plaaslike AfriForum-takke hul voorstelle vir die jaarlikse Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) by Mangaung ingedien. Die organisasie wil ook hê dat die metro hom daartoe moet verbind om vullis op ’n gereelde grondslag te verwyder, soos laasgenoemde se eie regulasies stipuleer.

Die Bloemfontein-takke wat hul GOP-voorstelle ingedien het, bedien ook groter omliggende buurte, naamlik Rayton-Heuwelsig, Bloemfontein-Noord, Langenhovenpark, Wilgehof, Pellissier, Fichardtpark, Uitsig, Hospitaalpark en Leeuwberg. Die takke in Boshof, Dealesville, Hertzogville en Zastron het ook hul GOP-voorstelle ingedien.

Christo Groenewald, distrikskoördineerder vir Bloemfontein, sê dit is belangrik dat takke deelneem aan die GOP-proses om hierdie tipe voorstelle in te dien wat sal bydra tot ontwikkeling in plaaslike gemeenskappe.

“Ons kan nie net terugsit en wag dat Bloemfontein totaal verval nie, daarom sal AfriForum die gemeenskap met hierdie deelname ondersteun,” het Groenewald bygevoeg.

Verwerk deur Pieter Delport

pieterd@mahareng.co.za