Die AfriForum-buurtwaglede in Bloemfontein het die afgelope naweek opleiding in brandbestryding ontvang. Die opleiding is deur Forum Sekuriteit aangebied.
Die doel van die opleiding is om buurtwaglede met teoretiese en praktiese kennis toe te rus om korrek en doeltreffend in noodsituasies op te tree.
Gedurende die opleiding is daar ’n brand gestig wat hulle moes blus om sodoende die gevare van ’n noodsituasie te identifiseer.
Daar is veral aandag aan veld- en bosbrande geskenk, aangesien dit die mees algemene brande is wat in die Vrystaat voorkom en waarvoor buurtwaglede hul hulp aanbied.
“Dit is uiters belangrik om seker te maak dat ons buurtwaglede met die regte kennis en hulpbronne toegerus is om sodoende doeltreffend op noodsituasies te kan reageer. Dit is vir ons as AfriForum ’n voorreg om ons buurtwaglede met die tipe opleiding by te staan, aangesien die kennis ’n positiewe invloed op ons plaaslike gemeenskappe het,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder in Bloemfontein.
Buurtwaglede van die Wilgehof-buurtwag het ook die naweek opleiding in patrollering en radiospraak ontvang.
Compiled by Justine Fortuin