Bykans 190 AfriForum-buurtwaglede van takke in Bloemfontein het Vrydagaand aan nasionale misdaadvoorkomings- en sigbaarheidpatrollies deelgeneem.
AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein, Pieter Myburg, sê al sewe buurtwagte in Bloemfontein het aan die patrollie deelgeneem.

“Die Suid-Afrikaanse Polisiediens, Chubb, Bloemsec, Nissi, ITR, Senforce, VR Security, Trauma Response Afrika en Life Rosepark-ambulansdienste het ook deelgeneem,” sê Myburg.
Die patrolleerders het Bloemfontein tussen Vrydag 20:00 en Saterdag 05:00 in skofte van drie ure elk met 127 voertuie gepatrolleer.
Myburg sê daar is bykans 6 993 km afgelê en 1 613 man-ure gewerk, wat na ʼn bedrag van R532 290 omgeskakel kan word.

Geen ernstige gevalle is aangemeld nie. Die patrolleerders het ook ondermeer gehelp om verkeer te reguleer op vier ongelukstonele in die stad.
“Die patrollie was op misdaadvoorkoming en die sigbaarheid van veiligheidsstrukture gemik.
Dit is duidelik dat die Bloemfonteingemeenskap weet ‘selfdoen’ is beter as ‘niksdoen’,” sê Myburg.
Andre Grobler/Courant Nuus