AfriForum-buurtwag trek veediefstal-verdagtes vas

0
253

Burgerregte-organisasie AfriForum se buurtwag in Bultfontein het onlangs vyf veediefstal-verdagtes vasgetrek op ‘n plaas wat aan die grens van die dorp lê.

Die voorval het op 1 April plaasgevind toe die buurtwag in kennis getel is dat daar ’n poging tot veediefstal op ’n plaas was. Buurtwaglede is onmiddellik ontplooi, en op die toneel het hulle opgemerk dat sommige van die verdagtes deur ‘n veld probeer vlug het. Volgens die organisasie is die verdagtes in hegtenis geneem danksy doeltreffende radiokommunikasie en goeie samewerking tussen die buurtwag en die polisie.

“Ná verdere ondersoek is vasgestel dat twee van die verdagtes na bewering betrokke was by die poging tot veediefstal en die ander drie word verbind met die diefstal van groenmielies,” vertel die organisasie.

Chris Morgan, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland, het die buurtwaglede bedank vir hul betrokkenheid. Morgan het ook die gemeenskap aangemoedig om aan die buurtwag se bedrywighede deel te neem.

“Ons moedig die gemeenskap aan om by ons strukture in te skakel en sodoende ’n daadwerklike verskil te maak. Veiligheid is vir ons ’n voorkeur en daarom wil ons die gemeenskap uitnooi om by ons buurtwag aan te sluit,” sê Morgan.

Pierce van Heerden

pierce@mahareng.co.za