AfriForum Brandweer in Bfn ’n eerste

0
46
Van agter – junior brandweerman JD Lensley en senior brandweerman Guan van Aswegen; Voor – junior brandweerman JD de Villiers, kadet Jozé Roman en brandweerman Tyron Swanepoel. FOTO: VERSKAF

Die bekendstelling van AfriForum Brandweer vroeër vandeesmaand was ’n aangename verrassing vir die Bloemfonteinse gemeenskap.

AfriForum Brandweer is die eerste privaat brandbestrydingsdiens wat deur die burgerregte-organisasie van stapel gestuur is.

“Die afname in die kwaliteit van dienslewering in baie munisipaliteite het die behoefte aan selfdoen-inisiatiewe op verskeie vlakke onderstreep en die stigting van ’n privaat brandbestrydingsdiens is maar een van vele soortgelyke projekte wat AfriForum aangepak het,” sê Tarien Cooks, bestuurder van AfriForum-rampbestuur.

Cooks het verder genoem dat die stad die middelpunt van baie van AfriForum se suksesse is. Die organisasie het tot op hede verskeie buurtwagte en nege takke op die been gebring wat slaggate herstel, instandhouding doen aan infrastruktuur en die vullisverwyderingskapasiteit in Bloemfontein verhoog. Dit was dus gepas dat die eerste privaat brandbestrydingsdiens in die stad deur Afriforum gelewer sou word.

“Die aanvanklike samesprekings tussen AfriForum en FireOps SA het in Desember 2023 begin en die finale ooreenkoms is in April bereik,” het Cooks gesê.

Cooks het verder genoem dat AfriForum Brandweer slegs optree binne die raamwerk van die wet en toegelaat sal word om dieselfde dienste as die munisipaliteit se brandweer te lewer.

Hoewel AfriForum nie ’n formele samewerkingsooreenkoms met die Mangaung Metro Munisipaliteit (MMM) se nooddienste: Brand, Redding en Rampe het nie, ondersteun hul brandbestryders MMM in die verskaffing van brandbestrydingsdienste in die metro.

Hulle het reeds op verskeie tonele saamgewerk. Die toerusting en tegnologie wat gebruik word, is dié van FireOps SA, insluitend hul hoogs opgeleide brandbestryders.

Die brandbestryders werk in skofte en is 24 uur per dag, 7 dae per week beskikbaar. AfriForum Brandweer is in Langenhovenpark.

In geval van nood kan AfriForum Brandweer se beheerkamer by 081-359-9949, of 083-622-6026 gekontak word.

 

Abigail Visagie

abigail@mahareng.co.za