AfriForum Bfn skenk R90 000 vir kospakkies

0
1030
Lede van AfriForum en Solidariteit Helpende Hand is van links Daniel Fyver, Nola Steenberg, Tanya Russouw, Celeste Steenberg, Tammy Morey, Kobus Venter, Christo Groenewald en Manie de Klerk.

Burgerregte-organisasie AfriForun se tak in Bloemfontein het R90 000 aan Solidariteit Helpende Hand se noodfonds geskenk wat dié diensorganisasie verder in staat sal stel om gesinne wat deur die staat van inperking geraak word, te ondersteun.

Volgens ‘n verklaring het die nege Bloemfontein-takke Helpende Hand ook van 18 April 2020 gehelp om kospakkies by behoeftige mense af te lewer. 1 504 mense, wat uit 249 gesinne (689 mense) en 20 sentrums met altesaam 815 inwoners bestaan, is van 18 tot 24 April 2020 bygestaan deur Solidariteit Helpende Hand in die Vrystaat.

“AfriForum se Bloemfontein-takke het saamgespan om die skenking moontlik te maak sodat hierdie mense ook die nodige ondersteuning en hulp kan ontvang,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Rosestad.

Volgens hom het die Covid-19-krisis baie gesinne onkant betrap en was hulle nie finansieel daarop voorbereid om voedsel en die nodige toiletware aan te koop nie.

Volgens die verklaring was Kobus Venter, Solidariteit Helpende Hand se streeksorganiseerder vir die Vrystaat, sprakeloos toe hy hierdie nuus ontvang het. Volgens Venter  gaan hierdie skenking sy streek in staat stel om te fokus op mediumtermynbeplanning wat die verligting van voedselnood moontlik gaan maak.

Belangstellendes kan AfriForum help om ’n verskil in mense se lewens te maak deur “AfriForum” na 45266 te SMS teen R1 per SMS.

info@bloemfonteincourant.co.za