AfriForum Bfn maak begraafplaas ‘nuut’

0
193
Pres. Brand-begraafplaas nadat dit deur AfriForum skoongemaak is

Burgerregte-organisasie, AfriForum Bloemfontein, doen deesdae instandhoudingswerk by die President Brand-begraafplaas. Dit kom nadat die tak deur Dirk Venter genader is om hulp te verleen om dié begraafplaas netjies te hou.

Volgens Venter is AfriForum ‘n baken van hoop vir die samelewing. “Op vele gebiede verleen hulle hulp waar munisipaliteite ineenstort. Ek het self sowat vyf jaar gelede die President Brand-begraafplaas ‘aangeneem’,” sê Venter.

Pres. Brand-begraafplaas vóór die skoonmaak

Hoewel hy met die aanvang van die nasionale inperking die begraafplaas kon onderhou met fondse wat hy self verskaf het, het die streng inperkingsregulasies die perseel vinnig laat agteruitgaan. Venter vertel dat hulle ongeveer 60% van die aangeplante bome verloor het omdat hulle nie dit kon natlei nie weens die inperkingsregulasies. Daarná het die gras en bossies dig gegroei weens die baie reën.

“Binne ‘n maand nadat ek Christo Groenewald van AfriForum genader het, was die begraafplaas skoon. Die feit dat AfriForum saam met ons werk om die begraafplaas – waar vele presidente begrawe is – te onderhou, gee ‘n mens sommer weer hoop en gee ons moed om aan te gaan. Saam met AfriForum sal ons die begraafplaas tot sy volle glorie herstel en verseker dat ons erfenis behoue bly.”

Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder in Bfn, sê dat die organisasie graag die stad se erfenis beskerm. “Baie mense in die gemeenskap is nie bewus van ons monumente en gedenkwaardighede in Bloemfontein nie.

Ons wil sover moontlik alle monumente op die vereiste peil bring sodat die gemeenskap nooit ons geskiedenis sal vergeet nie en vrylik toegang kan hê om die monumente veilig te besoek,” beklemtoon Groenewald.

Pierce van Heerden
pierce@mahareng.co.za