AfriForum bestry brand by Bfn-winkelkompleks

0
1089
Wilgehof-tak help brand blus

Burgerregte-organisasie, AfriForum, se Wilgehof-buurtwag het gehelp om ‘n brand by ‘n plaaslike winkelkompleks te bestry. Dit nadat hulle ‘n oproep ontvang het van ‘n brand by die Gardenia Kwikspar in Wilgehof.

Die buurtwag, saam met mediese en veiligheidsvennote, Med24 en VR Sekuriteit, was binne minute op die toneel.

Die brand, wat omstreeks 21:20 plaasgevind het op Maandag 15 Februarie 2021 is deur lede van AfriForum en VR Sekuriteit geblus voordat die brandweer opgedaag het. Die gebeurlikheidsplan, wat spesifiek opgestel is vir ’n insident by die winkelsentrum, is in werking gestel.

Die buurtwag se protospan het die gebou en inwoners ontruim, na ’n veilige area geneem, en skarebeheer toegepas. Volgens die burgerregte-groep het Med24 ook deurlopend op die toneel gebly en verseker dat alle rolspelers veilig is.

Joseph Renaud, AfriForum se hoof van Gemeenskapsveiligheid vir die sentrale streek, sê dat hierdie weer eens ‘n bewys is dat AfriForum se spesialisopleiding, toerusting, plaaslike en nasionale radionetwerke en samewerking met ander rolspelers uiters suksesvol is.

“Die feit dat gemeenskapslede inligting direk aan die buurtwag kan kommunikeer, maak vinnige optrede deur die buurtwag moontlik. Dit skep ook vertroue by die gemeenskap en verskerp waaksaamheid en weerbaarheid om misdaad in die gebied hok te slaan. Goeie samewerking tussen die buurtwag, polisie en plaaslike veiligheidsinstansies stel ons in staat om die gemeenskap in tye van nood by te staan.”

info@bloemfonteincourant.co.za