Afdraai: Die plattelandse toer

0
834
Cyril Viljoen en Belinda van Zee vinnig op pad na jou dorp toe. FOTO: XANY JANSE VAN VUUREN

Bloemfontein se Belinda van Zee en Cyril Viljoen is op ‘n missie en mag dalk ‘n “afdraai” vat na jou geliefkoosde dorpie.

Met die platteland en al sy versteekte skatte, wat so dikwels deur die meeste kunstenaars oorgeslaan word op hul toere deur die land, het Van Zee en Viljoen ná ‘n baie suksesvolle optrede in Philippolis by die Rooi Ooi besluit om die klein dorpies van Suid-Afrika oor naweeke te besoek. Hulle vermaak gehore vir twee uur met oorspronklike Afrikaanse en Engelse musiek en stories.

Volgens Van Zee het sy en Viljoen hande gevat omdat hulle goed oor die weg kom en mekaar se werk admireer en respekteer. “Die planne vir 2020 is om aan te hou leef en asem te haal, nuwe mense te ontmoet, stories raak te loop en die skoonheid van ons land en sy mense te ontdek en vas te vang. Of dalk net om ‘n lekker melkskommel te gaan drink in Soutpan.” sê Van Zee.

Volgens Viljoen geniet hy elke oomblik van die projek – van die koffie voordat hulle in die pad val, tot die brandstof ingooi en padkos oplaai by Belinda se ouers. “Die afpak en vooraf gesels met die eienaars van die plekke waar ons speel om meer oor die dorp uit te vind, die optree, wat vir my persoonlik ongelooflik stresvol is, en dan die kuier met die ouens wat kom kyk het. Okay, in kort, alles; dis soos om asem te haal, ek sal doodgaan daarsonder,” sê Viljoen.

Die duo reik uit na plekke en probeer konserte reël waar ook al hulle verwelkom word. Huiskonserte, restaurante, stoepe, enige plek. Behalwe die oorspronklike Afrikaanse en Engelse musiek bring hulle ook ‘n bietjie van hul visuele kuns en foto’s saam wat van hul stories of bestemmings uitbeeld. Vir 2020 beplan hulle ‘n CD, Afdraai, met musiek van albei op, onder meer ook waar hulle saam opgeneem is. Mense kan met ons hulle kontak maak deur hul Facebook-blad, Afdraai, te besoek.

PIERCE VAN HEERDEN

pierce@mahareng.co.za