Advertensies op randstene ‘n probleem vir baie

0
300
'n Voorbeeld van hoe ruimte misbruik word vir onnodige doeleindes in plaas daarvan om dit te gebruik vir die verf van 'n straatnaam. FOTO: PIERCE VAN HEERDEN

Die nuutste irritasie in Bloemfontein is die name van besighede wat op randstene in strate geverf word.
Dit is uiters onstellend vir baie inwoners in die stad omdat daar nie eerder moeite gedoen word om straatname op te knap of oor te verf soos wat dit eintelik hoort nie. Die enigste straatname wat aandag geniet, is dié wat as hoofpaaie of -roetes beskou word.
‘n Ontstoke inwoner, wat anoniem wil bly, sê dit is uiters onaanvaarbaar dat die munisipaliteit toelaat dat besighede hulself so kan adverteer. “Mense wat nie in Bloemfontein woon nie, verdwaal in die stad omdat daar nie straatname is nie. Soms verdwaal Bloemfontein se eie inwoners omdat daar nie voorsiening vir straatname gemaak word nie.”
Dit het begin by een of twee besighede wat dit gedoen het en nou is dit die nuutste mode onder meeste van die besighede in die stad.
By navraag aan die Mangaung-metro-munisiplaitiet, het Qondile Khedama, woordvoerder van die munisipaliteit, gesê daar is ‘n paar regulasies teen dié soort aksie, maar nie ‘n wet wat dit duidelik stel dat dit onwettig is nie, en daar dus nie werklik iets aan die saak gedoen kan word nie.
Rossouw Botes, raadslid van die DA, het ook gesê daar is regulasies wat die geval verduidelik. “Wat wel van belang is, is dat die randstene ‘n bate van die munisipaliteit is, en sou iemand iets wil doen op dié bate, moet hy of sy goedkeuring by die munisiplaiteit kry om voort te gaan.” – JERETHA OOSTHUIZEN

jeretha@mahareng.co.za