Aartjie na haar vaartjie

0
2992
Chantell, Kobus en Chanté Jansen van Rensburg op haar eerste dag van grootskool.

Die sesjarige Chanté Jansen van Rensburg van Bloemfontein, wat hierdie week vir die eerste keer grootskool toe gegaan het, volg beslis in haar pa, Kobus Jansen van Rensburg, se voetspore.

Dít nadat hy in 1992 met graad een by die Laerskool JBM Hertzog begin het as een van die grootste kinders in graad 1, nie net in Bloemfontein nie, maar in die hele Vrystaat. In daardie stadium het hy 1,35 meter in sy sokkies gestaan.

Kobus Jansen van Rensburg toe hy in 1992 in graad 1 was by Laerskool JBM Hertzog.

Vandag spog sy dogter, Chanté, met ‘n huidige lengte van 1.40 meter. Kobus wou in daardie jaar graat so groot wees soos sy pa en sy grootste begeerte was om aan atletiek deel te neem. Chanté koester soortgelyke drome en vertel opgewonde dat sy baie van inkleur en die buitelug hou en baie graag netbal en hokkie wil speel.

Volgens Kobus was dit vir hom baie lekker om die grootste te wees en om te sien hoe al die kinders om hom aankyk, iets wat Chanté haar mee kan vereenselwig aangesien sy dieselfde voel oor haar lengte.

Kobus vertel glimlaggend van die baie uitdagings wat buitengewone lengte bring, onder meer klere wat altyd te kort is. Op die vraag of Chanté haar eerste skooldag geniet het, antwoord haar pa, “Die eerste skooldag was vir haar ongelooflik lekker.

Haar juffrou, Cecilia Strauss, het reeds ‘n groot impak gemaak sommer aan die begin van haar skoolloopbaan. Sy het direk ná skool na die middagstudie gegaan en was opgewonde om haar huiswerk te doen.” Chanté was die oggend van haar eerste skooldag reeds van 03:00 af wakker en wou by haar ouers weet of sy solank haar skoolklere kan aantrek.

Sazly Hartzenberg

sazly@centralmediagroup.co.za