Aansuiweringsbegroting kry die groen lig

0
1417

Na aanvanklike teëspoed toe hoogs ontevrede lede van die DA en die VF Plus verlede Vrydag uit ‘n raadsvergadering gestap het, is die Mangaung-metro se aansuiweringsbegroting Dinsdag tydens ‘n spesiale raadsvergadering goedgekeur.
Dié twee partye het verlede week uit die vergadering gestap omdat daar volgens hulle ‘n gebrek aan openbare insae in die aansuiweringsbegroting was en omdat die vergadering nie behoorlik geadverteer was nie. Die feit dat daar boonop R654 miljoen se ongemagtigde uitgawes in die begroting is, was ‘n verdere bron van kommer.
Altesaam 62 raadslede het Dinsdag vir die begroting gestem en 23 daarteen. Byna al die EFF-lede in die raad het hul gewig by die ANC ingegooi om die begroting goedgekeur te kry.
Raadslid Tsholo Ranchobe van die EFF het gesê die party steun die begroting, hoewel hy diep bekommerd is oor ‘n paar aspekte daarvan.
“Die talle voorvalle van korrupsie wat by die munisipaliteit voorkom asook die tekort aan leierskap in die burgemeester se kantoor, is vir ons ‘n bron van groot kommer. Ons wonder ook waar al die geld vir die begroting vandaan gaan kom. Ons steun die begroting, maar ons sal nie verbaas wees as onuitvoerbaar gaan wees nie.”
Die DA, wat vir ‘n herrie in die kleine gesorg het toe sy lede met blou kerse by die vergadering opgedaag het, het by monde van onder andere raadslid Hans Britz, sy afkeur van die begroting uitgespreek.
Omdat die party nie in die raadsaal geleentheid gegun is om die blou kerse te verduidelik nie aangesien ANC-lede luidkeels beswaar gemaak het, het DA-lede buite die raadsaal aan Bloemfontein Courant gesê dat dit ter viering van die 20ste herdenking van die aanvaarding van die Suid-Afrikaanse Grondwet is.
Hoewel die land dié mylpaal reeds in Desember verlede jaar bereik het, was Dinsdag se raadsvergadering die eerste amptelike geleentheid waarop die DA die aandag daarop kon vestig.
Die DA het tydens die debat die ANC aangevat oor “leë” beloftes wat hy met vorige begrotings gemaak het. Die regerende party is veral geroskam oor die 8 000 bekostigbare wooneenhede wat as deel van die Bram Fischer-lughawe opgerig sou word. Dié projek sou ‘n geraamde 11 000 werkgeleenthede skep, maar daar het dadels van gekom.
Raadslid David Pongolo van die ANC wou egter van al die kritiek niks weet nie, en het die DA daarvan beskuldig dat hy teen die aansuiweringbegroting gekant is omdat dit “pro-swart” is.
“Ons ondersteun die begroting heelhartig, omdat die grootste deel daarvan aangewend gaan word om ongelykhede wat in townships bestaan, uit die weg te ruim. Die begroting gaan ‘n beter lewe vir armes help verseker,” het Pongolo gesê. – Pieter Delport 
info@centralmediagroup.co.za