90 nuut gegradueerdes van Peritum Agri

0
441
Theunette Kruger (Peritum-gegradueerde); Ernest Beck (Peritum-direkteur); Arina Kruger (Peritum-gegradueerde). FOTO: Sazly Hartzenberg

Die Vrystaatse opleidingsinstituut, Peritum Agri, het hierdie maand ‘n gesamentlike gradeplegtigheid aangebied vir die klas van 2018 en 2019.

Die dag is by die Goose Hill Wedding and Guest Farm naby Bloemfontein gevier deur familie en vriende van die studente.

Negentig studente het almal hul diploma in Plantproduksie en diploma in Diereproduksie behaal. Volgens die direkteur van Peritum Agri, Ernest Beck, is dit vir hulle as instelling altyd ‘n voorreg om gradeplegtighede te hou omdat dit vir hulle belangrik is om in jong boere te belê.
“Dit is belangrik vir ons dat al die jong boere gekwalifiseer is en blootgestel word aan die nuutste tegnologie in die bedryf. Daarom het ons vennote soos John-Deere en die Rooivleisprodusenteorganisasie (RPO) wat dit vir ons studente moontlik maak.”

Beck vertel aan Bloemfontein Courant dat hulle waar moontlik in die twee kursusse vir studente praktiese ervaring gee en dit is hoekom hulle met boere regoor die land, kommersiële boere, asook besighede in die bedryf saamwerk.

“Ons vra hulle om vir ons studente die blootstelling te gee wat hulle in die bedryf sal kan gebruik.” Beck sê hulle maak seker dat alle studente wat by Peritum Agri studeer gereed is vir die wêreld waarin hulle gaan werk en dat hulle ‘n bydrae sal kan lewer tot die bedryf.

Die Covid-19-pandemie het hulle as instituut erg geaffekteer omdat hulle so baie praktiese werk moet doen.

“Ons moes al ons klasse staak en alles aanlyn doen. Ons moes ook video’s kry by ons vennote om vir studente te wys en so die praktiese sy te verduidelik.” Hy het beklemtoon dat die instelling uiters trots is op die studente wat graad gevang het.

Sazly Hartzenberg
sazly@mahareng.co.za