Strydom, Nöthling tree op in Odeion

0
786
Grethe Nöthling & Danrè Strydom

Die bekroonde Suid-Afrikaanse musici, Danrè Strydom (klarinet) en Grethe Nöthling (klavier), gaan as ‘n span optree saam met visuele kunstenaar, David Griessel, in ‘n een-aand-vertoning wat op 30 Augustus in die Odeion plaasvind.

In dié konsert, getiteld Clarinet & Piano: Opus ZA, gaan Griessel deur ‘n sketsproses elke komposisie wat voorgedra word, uitbeeld. Strydom en Nöthling het sedert 2016 saam as opwindende groep begin optree. Sedert hulle onlangs na Suid-Afrika teruggekeer het ná ‘n hele paar jaar oorsee, is die twee se doel om wêreldwyd gehore met verfrissende vertonings van bekende en geliefde sowel as meer onbekende en interessante repertoire te vermaak.

Die duo het ook in 2017 opgetree by verskeie Suid-Afrikaanse feeste en nasionale konsertreekse. Albei musici (as deel van Trio Intolerance) het ook die Vrystaatse Kunstenaar van die Jaar-toekennings op die Vrystaat Kunstefees (2017) verwerf. In 2018 is die duo genooi om op te tree by die Internasionale Klarinetfees in België. Terwyl hulle in Europa was, het hulle die eerste deel van hul CD van nuut gekomponeerde sowel as minder bekende Suid-Afrikaanse komposisies vir klarinet en klavier opgeneem.

Tydens die Odeion-konsert, wat om 19:30 begin, sal die duo sommige van die pragtige maar veeleisende Suid-Afrikaanse komposisies wat op die CD voorkom, voordra. Die keuse sluit werke in van goed gevestigde komponiste soos Clare Loveday, Noel Stockton, Hendrik Hofmeyr en Peter Klatzow, om ‘n paar te noem. Al die werke is relatief kort komposisies, dus sal die program nege werke in geheel insluit. Om die karakter van elk van hierdie komposisies te beklemtoon, sal David Griessel, Suid-Afrikaanse visuele kunstenaar, nege sketse doen wat op ‘n skerm agter die duo vertoon wal word. Hierdie video’s, gemaak deur Bloemfonteinse videomaker, Zita, sal die volledige tekenproses insluit en die gehoor sal elke lyn en kwashaal kan volg gedurende die musiekvertoning.

Program:
Hendrik Hofmeyr: Notturno
Clare Loveday: Heatwave
Noel Stockton: Three Pieces
Peter Klatzow: Moments of Night
Stephans Grove: Spieëltjie aan die wand
Isak Roux: Kleine Chronik
Surendran Reddy: Game I for Lîla
Alexander Johnson: Jazz Sonatine
Kaartjies is beskikbaar by Computicket of aanlyn by http://online.computicket.com/web/ teen R120 (volwassenes), R80 (pensionarisse), R70 (UV-personeel), R50 (studente, leerlinge en blokbesprekings van 10+).
Vir meer inligting, bel Ninette Pretorius by 051-401-2504.

info@bloemfonteincourant.co.za