50 gesteelde skape teruggevind danksy vinnige polisie-optrede

0
436

Danksy vinnige optrede deur lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) is ʼn totaal van 50 skape teruggevind in die Brandfort-gebied in die Vrystaat.

Die voorval van veediefstal, wat op 19 Februarie 2022 plaasgevind het, is vinnig en effektief deur die SAPD se spesialis-eenhede opgevolg.

Isabel Kruger, voorsitter van die Veediefstal-Voorkomingsforum, sê 48 dorperooie en 2 -ramme van R155 000 is gesteel. Die feit dat die saak redelik vinnig by die plaaslike polisie aangemeld is, het daartoe gelei dat twee speurders wat in veediefstalsake spesialiseer, dit vining kon opvolg. Die twee het met die hulp van ‘n spoorhond die skape se spore 30 kilometer ver gevolg het.

“Hulle het die skape by die munisipale weikamp naby die dorpsgebied in digte bosse versteek gevind waar ʼn tydelike kraal opgerig was. Hoewel niemand nog met die misdaad verbind kon word nie, is die skape reeds aan die wettige eienaar terugbesorg,” sê Kruger.

Dr. Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van Vrystaat Landbou, sê die Brandfort-gebied is al ʼn geruime tyd ʼn hoëmisdaad-gebied wat voorvalle van veediefstal betref. In die kalender jaar 1 Januarie tot 31 Desember 2021, is meer as 1 080 stuks vee van R6 miljoen in Brandfort gesteel.

Kruger het die polisie weer versoek om alle leidrade op te volg ten einde alle misdadigers wat veediefstal in die Brandfort-gebied organiseer en uitvoer, aan die pen te laat ry.

Saamgestel deur Pierce van Heerden

pierce@mahareng.co.za