Die tyd gaan so vining verby en my gedagtes dwaal gereeld terug na die tyd toe ons ons kinders se lengte by die ingang van een van die deure gemerk het om te kyk hoeveel hulle gegroei het.
Jy kon dan gereeld kyk hoe lank hulle word en soms het ons gewonder hoe lank elkeen van hulle sou wees as volwassenes. Soos wat die dae verby gegaan het, het ek besef dat groei-moontlikhede nie net beperk is tot ons fisieke groei nie, maar ook gaan oor ons geestelike lewe.
Die tyd waarin die uitstorting van die Heilige Gees herdenk word, herinner my elke jaar aan die teks in 2 Petrus 3:18: “Sorg dat julle steeds toeneem in genade en kennis van ons Here….” Dit is, met ander woorde, die groei in geloof.
Elke gelowige, so lees ek die teks, moet groei in die verstaan van genade en die uitleef van genade teenoor mekaar. Dit is ook ‘n groei in geloof. Dit is om met mekaar genadig te wees en te weet dat dit net genade is wat maak dat ek en jy aan die Here behoort.
Dit is om met begrip en ‘n fyn aanvoeling te groei in ons verhouding met mekaar en ook met die Here. Dít is die uitdaging van Christen-wees!
DS STEPHAN VAN HEERDEN