Staan jy voor so ‘n afgrond?

0
1555
Herstrukturering, wat dan tot afleggings lei, volg ná moeilike ekonomiese toestande.

Ekonomiese toestande is moeilik, om die minste te sê. Een van die gevolge hiervan, is dat baie maatskappye herstruktureer en dit lei dan tot afleggings. Wat gemaak as jy een van die ongelukkiges is wat afgelê word?
Natuurlik sal dit onmiddellik voel of jou wêreld tot ‘n einde gekom het en daar geen lig aan die einde van die tonnel is nie. Mettertyd sal jy helderder begin dink en besef dat jy ‘n uitkoms sal moet begin soek. Indien jy aan ‘n aftreefonds (pensioen- of voorsorgfonds) behoort, het jy ‘n aantal opsies om oor te besluit. Jy kan jou belang in jou aftreefonds, belastingvry, oorplaas na ‘n uittree-annuïteit of bewaringsfonds. Alternatiewelik, kan jy dit ook ontvang in jou bankrekening, natuurlik met aansienlike belastingimplikasies.
Watter opsie moet jy kies? Enige finansiële beplanner of finansiële leesstof sal vir jou die Text Book-antwoord gee: Jy gebruik nie jou aftreegeld vóór aftrede nie en jy gebruik nie jou aftreegeld om skuld mee te betaal nie. Dit is egter goed en wel in teorie, maar in praktyk werk dinge bietjie anders. Die persone wat afgelê is/was, sal weet dat jy net só lank vir skuldeisers kan vlug, jy steeds kos op die tafel en ‘n dak oor die kop van jou gesin moet voorsien (terwyl jy net nie ‘n ander werk kan kry nie). Vir dié persone is genoegsame aftreegeld nie meer ‘n prioriteit nie; oorlewing wél.
Wat doen jy nou? Jy het eintlik geen ander opsie as om ter wille van oorlewing van jou swaarverdiende aftreegelde te gebruik nie, met die hoop dat ‘n nuwe werk net om die draai wag en jy die skade aan jou aftreevoorsiening sal kan herstel. Indien jy jou in so ‘n desperate posisie bevind, of gaan bevind, sal dit goed wees om ten minste net ‘n plan te beraam hoe om die skade tot jou aftreevoorsienings tot die minimum te beperk. Jy sal verbaas wees oor watter planne gemaak kan word indien die nood druk. Maak dus eerste ding ‘n afspraak met ‘n finansiële beplanner (twee koppe is beter as een), en begin ‘n strategie uitwerk vir die pad vorentoe wanneer jy weer ‘n werk behoort te hê. Dan, natuurlik: hou moed en bly positief. – Horace Terry 
horace@nassaux.com