Wol waai tydens skolebewusmakingsveldtog

0
3550
Graad 2-leerders van die Primêre Meisieskool Oranje kyk hoe vining Samuel Nkomoyi 'n skaap van kop tot toon skeer. FOTO: SABRINA DEAN

Almal weet ‘n skaap moet geskeer word sodat die wol in pragtige klere-artikels, ensovoorts, omgeskep kan word. Maar nie almal besef dat skaapskeerdery eintlik ook ‘n sport in eie reg is nie.
Dit is van die redes waarom die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) en die Bloemskou jaarliks hande vat om by skole in die Bloemfontein-omgewing demonstrasies te doen.
Izak Klopper, bestuurder van skaapskeeropleiding by die NWKV, het met OFM-nuus gepraat tydens die demonstrasie by die Primêre Meisieskool Oranje. Hy sê hierdie inisiatief bied ‘n geleentheid om bewusmaking oor die verskeie eienskappe van wol met die kinders te deel. “Wat ons hier doen is, ons wys vir hulle hoe ‘n skaap geskeer word. Ons het dan ook dames wat vrywillig hier is. Hulle brei en spin en weef van die wol. So die kinders kan – van die skaap se rug af, tot daar waar ‘n mens die artikel kan aantrek – dit self vandag hier sien.”
Graad 2-leerder, Lienca Ferreira, wat self ‘n plaasmeisie is, het dit baie geniet. Sy was veral beïndruk met die skeerder, Samuel Nkomoyi, se vertoning. “Hy was die vinnigste.” Ferreira sê dit is goed vir kinders om aan soiets blootgestel te word. “Dis belangrik, want hulle leer meer van skape.”
Klopper was onlangs saam met die Suid-Afrikaanse span vir die wêreldkampioenskap in Nieu-Sealand waar die Oos-Kaapse skeerder, Mayenzeki Shweni, weer eens die titel as wêreldskeerkampioen verwerf het.
“Dit was baie lekker. Jy weet, die Nieu-Seelanders is waarskynlik seker ons grootste aartsvyande. Hulle het alles gedoen om die speelveld vir hulle gelyk te maak en vir hulself ‘n beter kans te gee. Om hulle te kon wen ten spyte daarvan was baie, baie lekker. Dit is altyd lekker om ‘n Nieu-Seelander te wen.”
Een van die demonstreerders, Themba Khoza, wat ook sy Protea-kleure in skaapskeer het en meer as een keer aan ‘n wêreldkampioenskap deelgeneem het, sê hulle moet ekstra versigtig wees wanneer hulle vir kinders demonstrasies doen. “Ek maak seker daar is geen bloed nie, want jy weet, dit kan die kinders ontstel.”
Hy gaan ook volgende maand aan die nasionale kampioenskap deelneem en sê dit gaan baie opwindend wees om al die young guns in aksie te sien. “Daar is ‘n spul jongmanne wat tans oorsee is en ek dink hulle gaan binnekort terugkeer. En hulle is baie fiks. Ons noem hulle die young guns wanneer hulle daaglikse groot hoeveelhede skeer.”
Van die name wat hy noem, sluit in Dumisani Xhasa van die Wes-Kaap, Shaun Hamlet van Philippolis en voormalige nasionale kampioen, Guillaume Strydom.
“Dit is baie opwindend. Ek het baie van hulle geleer, so as daar ten minste drie van hulle in die finaal kan eindig, sal ek voel ek het goed gedoen.” Die nasionale skaapskeerkampioenskap vind op 28 en 29 April tydens die Bloemskou plaas. – Sabrina Dean
sabrina@centralmediagroup.co.za