Idols-finaliste ‘val Bfn binne’

0
2933
Keegan Martin

Dit gaan ‘n musiekfees soos min wees wanneer twee top-5-finaliste van Idols 2016, Keegan Martin en Bevin Samuels, asook een finalis van die 2015-seisoen, Loyiso Gijana, Bloemfontein gaan binneval vir ‘n eenmalige konsert op 31 Maart in die Mandela-arena by die Vista-universiteit in Rocklands.
Dié drie is die hoofattraksies vir die Angel Foundation se derde Love Africa-liefdadigheidskonsert. Die Angel Foundation bied dié reeks konserte aan om geld in te samel om geleenthede vir talentvolle jong mense in die Mangaung-metro te skep.
Keegan, Bevin en Loyiso het onlangs die boy band 156 gestig, en gaan sowel individueel as in ‘n groep by die Love Africa-konsert optree.
Maar die lede van 156 gaan beslis nie die enigste bekendes wees wat hul buiging op die Love Africa-verhoog maak nie. Die liefling van plaaslike gehore, Rose-anne Kemp, wat deesdae groot opslae op nasionale radiostasies maak met haar debuut-enkelsnit, “One Time”, gaan ook die gehoor bekoor.
Nadat Rose-anne onlangs haar TV-debuut op SABC3 se onbytprogram, Expresso, gemaak het, is daar groot opgewondenheid oor haar deelname aan die Love Africa-konsert. Voice het ook intussen ‘n voëltjie hoor fluit dat Rose-anne moontlik ‘n nuwe liedjie op die konsert bekend gaan stel.
Benewens die meer bekende deelnemers gaan daar ook ‘n string plaaslike musikante by die konsert optree. Een van hulle is die hartedief, Gershwyn Philemon, wat as voorsanger van die supergroep, Anotha Level, verhoë oor die land heen aan die brand gesing het. Nadat die lede van Anotha Level se paaie onlangs geskei het, het Gershwyn met ‘n sololoopbaan begin.
Musikante waarna die gehoor nogal kan uitsien, is die immergroen Percy de Villiers, wat met die Angel Foundation se Potjiefees verlede jaar die gehoor gaande gehad met sy sprankelende oorspronklikheid, asook die opkomende sangeres, Lionelle Ruiters, wat ‘n begunstigde van die Angel Foundation is.
Kaartjies vir die konsert kos R130 vir volwassenes, R100 vir studente en R50 vir kinders onder 12. Daar is ook BBP-kaartjies teen R200 elk beskikbaar.
Vir meer inligting oor die konsert of om kaartjies te bekom, bel Mark Murison by 082-844-4376. – Pieter Delport 
pieterd@mahareng.co.za