Rose-anne steel harte oor die lug

1
4300
Die jong sangeres Rose-anne Kemp (links) saam met Thenjiwe Stimela, veldaanbieder en navorser van die SABC3 ontbytprogram, Espresso.

‘n Jong Bloemfonteinse sangeres wou bloot ‘n liedjie opneem waarvan sy baie gehou het, maar voordat sy kon sê “One Time!”, haal dié einste liedjie 5FM se plaaslike Top 10 en sy beland op SABC3 se ontbytprogram, Espresso.
Dit mag soos ‘n moderne sprokiesverhaal klink, maar vir Rose-anne Kemp, ‘n jong sangsensasie van Heidedal, is dit ‘n droom wat oornag waar geword het.
Rose-anne, wat twee jaar gelede vir ‘n LLB-graad by Kovsies ingeskryf het, maar haar studies tydelik gestaak het om ‘n sangloopbaan te volg, sê die sukses van haar liedjie, “One Time”, skok haar nog elke dag.
“Ek het nooit gedink my musiek sal eendag oor die radio gespeel word nie, om nie eens te praat van die SA Top 10 oor ‘n groot radiostasie soos 5FM nie – 7 weke na mekaar nogal!”
Maar 5FM se luisteraars is nie ál liefhebbers van plaaslike musiek wat mal is oor Rose-anne se liedjie nie. Dit is daagliks te hoor op MetroFm, KovsieFm, CutFM, EldosFm, YFM, asook op DStv se Trace Africa-kanaal en Channel O. “One Time” was teen Augustus 2016 nommer een op CutFM se Local Top 20.
“One Time” se sukses oor nasionale radio het die vervaardigers van Expresso so beïndruk dat hulle haar genader het om ‘n insetsel oor haar kitsroem te maak. Dié insetsel is verlede Woensdag uitgesaai.
“Die opname was verskriklik stresvol, maar toe die kameras eers begin rol, moes ek diep asemhaal en flink dink om by te bly. Maar ek het die verskriklik baie geniet!
“Die reaksie en terugvoer op my TV-verskyning voel nog onwerklik. Al my ondersteuners het dit baie geniet. Ek glo almal sien uit na my volgende verskyning op TV!” het sy skertsend gesê.
Hoewel sy steeds die sukses van “One Time” koester, is sy reeds besig met planne om daarop voort te bou. Sy het reeds die opname van haar nuwe enkelsnit, “Back in December”, voltooi en volgens alle aanduidings gaan dit net so ‘n treffer wees. Sy het “Back in December” onlangs op ‘n galadinee gesing en die gehoor was gaande daaroor.
“Ek hoop om “Back in December” binnekort amptelik bekend te stel. Die opwindende nuus is egter dat ek tans besig om aan my debuutalbum te werk. Ek glo ek sal nog een enkelsnit uitreik voordat die finale album die lig sien,” het sy aan Bloemfontein Courant gesê. – Pieter Delport 
pieterd@mahareng.co.za