Heidedalse organisasie hou konsert

0
2928
Jon-Dylan Petersen, jeugleier van die Evangelies Lutherse Kerk (links), en past. Nolan van Wyk, voorsitter van die Christ Centered Outreach, die twee organiseerders van die konsert op Saterdag 1 April.

Die Heidedalse organisasie, Christ Centered Outreach, bied vanjaar weer die uiters suksesvolle konsert aan wat verlede jaar die eerste keer gehou is en ‘n groot gehoor gelok het.
Die konsert word op Saterdag 1 April 2017 om 15:00 met die samewerking van die jeugaksie van die Evangelies Lutherse Kerk in die Henry Brookssaal in Heidedal aangebied.
Pastoor Nolan van Wyk, die organiseerder van die konsert, sê hulle pak die projek jaarliks tydens die Maart-skoolvakansie aan om jong mense met positiewe aktiwiteite besig te hou.
“Die inkomste wat uit die konsert verdien word, gebruik ons hoofsaaklik om jong mense op uitstappies te neem. Ons neem hulle ook na gevangenisse waar hulle help om jong oortreders geestelik te bedien, soos wat hulle onlangs by die vrouegevangenis in Kroonstad gedoen het.
“Dit is belangrike werk, maar ons kan dit nie alleen doen nie. Daarom vra ons hulp van ons plaaslike kerke, skole en ander organisasies. Mense wat wil help of meer inligting oor die konsert wil hê, kan my gerus by 084-409-1921 bel of ‘n e-pos na nolan.vanwyk@gmail.com stuur.”
Konsertgangers kan uitsien na ‘n uitstekende vertoning, wat insluit musiek, drama, digkuns en dans – waaronder pantsula, hip hop asook gewyde danse. Net ‘n beperkte aantal items kan ongelukkig toegelaat word, en belangstellendes word aangemoedig so gou moontlik in te skryf. Aanbiedings mag nie langer as 5 minute wees nie.
Kaartjies vir die konsert kos R20 vir volwassenes en R10 vir kinders. Verversings sal tydens die konsert te koop wees. – Pieter Delport
pieterd@mahareng.co.za