Die goue gans word doodgewurg

0
1907
Pravin Gordhan, minister van finansies.

Nadat Pravin Gordhan onlangs Suid-Afrika se nasionale begroting aangekondig het, kon ek nie anders as om te wonder nie “hoe ver kan hulle nog die goue gans se nek draai voordat hy finaal vrek”.
Dit is baie duidelik dat ons land besig is om vinnig geld te verloor en dat die las op die individuele belastingbetaler net swaarder en swaarder word. As jy al die verdere heffings en ander belastings in ag neem, tesame met die las van inkomstebelasting, is dit baie duidelik dat ‘n baie klein gedeelte van die Suid-Afrikaanse bevolking vir die hele land moet sorg. ‘n Baie negatiewe aspek van die hele begroting was dat Pravin Gordhan geen daadwerklike planne aangekondig het wat ekonomiese groei sal bevorder nie. Dit, terwyl Jacob Zuma aan die ander kant radikale ekonomiese transformasie in die vooruitsig stel. Die vraag is dus: Hoe beplan ons as reeds onbevoegde regering om bogenoemde “radikale ekonomiese transformasie” van stapel te stuur as daar eintlik geen ekonomiese groei is of gou gaan wees nie? Ons regering drup van bedrog en geldvermorsing en ons almal wens heelhartig dat iemand tog net iets hieraan kan doen – dit sal die las op die belastingbetaler begin verlig.Om finansiële advies teen die agtergrond van die huidige moeilike ekonomiese toestande te gee, is nie maklik nie. Om kliënte se gemoedstoestand positief te kry en positief te hou rondom hul finansies en huishoudelike begroting, is nóg moeiliker. Die van ons wat ons inkomste as ‘n gewone salaris verdien, het nie veel beweegruimte om die belastinglas te verlig nie. Al wat ek kan voorstel, is dat jy sover moontlik dit wat vir jou belastingverligting kan bied, benut. Ek praat dan van jou bydrae tot uittree-annuïteite. Die sogenaamde belastingvrye beleggings is deesdae beslis ‘n moet in elkeen se portefeulje. Alhoewel dié tipe beleggings nie onmiddellik vir jou enige belastingverligting sal bied nie, sal dit in die toekoms help om jou belasbare inkomste afwaarts te manipuleer. Laat weet gerus indien jy enige vrae het oor die begroting, uittree-annuïteite en/of belastingvrye beleggings (jy kan op die oomblik R33 000 per jaar op so ‘n belegging plaas). – Horace Terry 
horace@nassaux.com